Proaktiewe droogtestrategie is net die ding vir 2012 se winter

  • 18 Julie 2012
  • 4374
  •  Izak du Plessis
  •  Senwes Scenario
  •  



Boerdery is waarskynlik dié bedryf van die mens wat die meeste deur klimaat- en weerpatrone beïnvloed word. Die voorkoms van periodieke droogtes, noop die produsent om voortydig voorsorg te tref. P.E. Lombard en H.M. Greef het nie verniet reeds in 1964 opgemerk nie: “Die verstandige boer bou reserwes op gedurende die volop tyd. Dan sal die “sewe maer jare” hom nie onverhoeds vang nie.” Steeds word verskeie van ons voortdurend met die spreekwoordelike broek op die knieë gevang wanneer ’n droë jaar skielik opdaag, om nie eens te praat van die “sewe maer jare” nie. Vir die oorlewing van ’n veeprodusent, is dit kardinaal om ’n droogte oorbruggingstrategie te hê. Alhoewel die fokus meer op die onmiddellike korttermyndroogte sal val, sal daar tog ook na ’n meer omvangryke droogte oorbruggingstrategie verwys word.

WANNEER BEGIN ’N DROOGTE?
In teenstelling met meeste se opvatting, begin ’n droogte nie eers wanneer die weiding klaar is nie. Dit begin reeds met die eerste reën wat laat kom, dan word dit uitgebrei deur die swak opvolgpatroon van die reënbuie en die min reën wat uiteindelik ontvang word. Johan van den Berg van Santam Landbou maan dat reënvalscenario’s op ’n gereelde basis deur die reënseisoen gedoen moet word en nie slegs aan die begin nie. Met die korrekte bestuurder- en moniteringsprogram in plek is dit meestal reeds in Februarie moontlik om die eerste tekens van ’n naderende droogte te identifiseer. 

Gebeurlikheidsplanne moet dan reeds in plek gestel word. Hoe vroeër aanpassings vir ’n droogte gemaak word, hoe kleiner is die impak van die droogte op die veevertakking. Hoe vroeër uitskotdiere van die plaas af gaan, hoe meer teeldiere kan deur die winter geneem word. Die grootste vyand van suksesvolle droogtebestuur, is die hoop of geloof dat dit wel volgende week sal reën. Hierdie hoop veroorsaak dat aksieplanne uitgestel word tot op ’n punt waar drastiese optredes nodig is om deur die droogte te kom.

HOE TAKEL MENS ’N DROOGTE?
Om ’n droogte die hoof te bied, is geensins goedkoop nie. Maklike kortpaaie bestaan nie. Daarom is dit belangrik om so vroeg moontlik die waarskynlik­heid van ’n droogte te identifiseer en proaktief op te tree. Vroegtydige, proaktiewe optrede sal die koste om deur die droogte te kom, verminder, aangesien drastiese maatreëls eers later gevolg hoef te word. Proaktiewe vermindering van vee ly daartoe dat diere voor die groot stormloop verkoop word, gevolglik kan hoër pryse gerealiseer word.

Eerstens is tollie- en osproduksiestelsels beter gerat om die kernteelkudde teen droogtes te be­skerm. Heelwat GVE kan van die veld af verwyder word deur slegs osse, tollies en speenkalwers te verkoop. Indien dit slegs een droë jaar is, sal dit en die vroeë verkoop van uitskotkoeie voldoende wees. Die kernkudde kan dan weer vinnig opgebou word. Met ’n speenkalfstelsel moet meer koeie verkoop word, omdat die enigste vermindering van GVE die verkoop van speenkalwers is wat in elk geval verkoop sou word. Om dus vir droogtetoestande voorsiening te maak, is dit nodig om produserende teelkoeie te verkoop. Dit neem dus langer om ná die droogte weer die kernteelkudde te herstel. 

Die grootste probleme begin egter wanneer die weiding min raak. Al die smaaklike weiding met voedingswaarde is dan weg. Al wat oor is, is die onsmaaklike grasse. Die uitdaging is dan om die diere aan die lewe te hou. Sodra hierdie situasie ontstaan, moet ’n oorlewingstrategie gevolg word. Die belangrikste oorweging is dan om diere aan die lewe te hou en nie noodwendig produserend nie. Indien diere aan die lewe gehou kan word totdat daar weer voldoende voer beskikbaar is, is daar darem weer diere beskikbaar om mee te produseer.

Ruvoerbeskikbaarheid is die belangrikste faktor – selfs baie swak kwaliteit ruvoer is beter as geen ruvoer. Die voedingswaarde van swak ruvoer kan aangevul word, al is dit teen ’n koste. Sonder ruvoer is daar egter nie salf te smeer nie, want ’n bees kan nie op mielies alleen lewe nie. Afgesien van ruvoerbronne, soos veldhooi en oesreste, kan mieliestronkmeel, grondbonedoppe en sonneblomkoppe ook gebruik word.

Sover moontlik moet diere op die veld gehou word en die normale oorwinteringstrategie met lekke moet eers gevolg word. Wanneer die smaaklike grasse uitgewei is, moet oorgeslaan word na ’n 50% winterlek wat die benutting van die onsmaaklike en minder verteerbare grasse sal bevorder.

Hou die diere se kondisie fyn dop en skakel oor na die oorlewingstrategie sodra die diere se kondisie na ’n kondisiepunt van 2 gedaal het (Foto 1). Moenie dat diere te maer word nie en gebruik dan dié van die onderstaande oorlewingsresep(te) wat jou toestande die beste sal pas.

Diere wat in verskillende produksiestadia is, moet ook verskillend behandel word tydens die droogte-oorlewingsproses. Dit word aangeneem dat slegs reproduserende diere deur ’n droogte aangehou word. Alle ander diere is verkoop. Koeie/ooie met kalwers/lammers se kondisie moet veral fyn dopgehou word. Sodra die kondisie begin afneem, moet die kalwers/lammers gespeen word, al beteken dit dat hulle vroeg gespeen word. Hierdeur word die reproduserende dier gespaar vir wanneer die nuwe reënseisoen aanbreek.

Dragtige diere moet steeds goed versorg word. Die koeie/ooie gaan in elk geval kalf/lam, voer hulle dus om hulle kondisie te behou. Hulle het reserwes nodig om hulle kalwers/lammers te kan grootmaak. Indien hulle afgeskeep word, gaan hulle in ’n swak kondisie wees by geboorte en heelwat probleme gaan dan ondervind word. Moeilike geboortes gepaardgaande met moontlike verliese, weggooi kalwers/lammers wat hans grootgemaak moet word, swak kalwers/lammers wat sukkel om te oorleef en so kan ons aangaan.

Ná ’n droogte is jong aanteeldiere baie gesog en skaars. Indien jong diere en speendiere se groei ernstig benadeel word, het dit tot gevolg dat hulle volwasse massa en liggaamsgrootte nadelig beïnvloed word en in die geval van skape word die wolproduksie ook benadeel. Dit is dus lonend om spesiale aandag aan hierdie groep diere te gee tydens ’n droogte. Jong diere het ook die voordeel dat hulle onderhoudsbehoeftes laer is as volwasse diere s’n. Dit is dus goedkoper om hulle te onderhou as volwasse diere.

Ander maatreëls ten opsigte van die vee waaraan oorweging geskenk moet word, is:
  • Voorsien skoon drinkwater.
  • Beperk beweging en dus energieverkwisting deur die diere in klein kampies te hou.
  • Klassifiseer die diere volgens kondisie en ouderdom.
  • Beperk voerverliese deur doeltreffende hooirakke en krippe te gebruik.
  • Gemaalde ruvoer word tot 30% beter benut as lang hooi.
  • Verskaf beskutting teen koue winde. Tot ’n derde van die wintergewigsverlies wat by diere voorkom, is as gevolg van koue winde.
  • Bestry inwendige sowel as uitwendige parasiete.
  • Spuit Vitamiene A. 
  • Beperk uitgawes;
  • Vaste koste maak ongeveer 45% van die uitgawes van ’n veevertakking uit (sien Figuur 1).
  • Min kan aan die loonrekening gedoen word, maar beperk uitgawes aan bulle/ramme, heinings en voertuie.
DROOGTEVOERRESEPTE VIR DIE OORLEWING VAN DIERE

  1. Mengsel vir swak ruvoer
    1. 25 kg ureum
    2. 25 kg melasse kannetjie of kalorie 3 000
    3. 100 liter water
    4. Meng een deel van hierdie mengsel met 10 dele hooi. Die mengsel kan ook op weiding gespuit word, maar moenie ’n groter oppervlakte bespuit as wat in twee dae benut gaan word nie. Spuit die mengsel slegs op goeie, ruie veld.
    5. Die koste beloop ongeveer R225/500 m2 strook, R0,90 tot R1,11/skaap/dag, R7,20 tot R8,50/bees/dag.
  2. Oorlewing van ooie
    1. 600 g hooi/ooi/dag
    2. 200 - 300 sjokoladegraan/ooi/dag
    3. Die koste daarvan om ooie op bogenoemde rant­soen te laat oorleef, beloop omtrent R1,05 tot R1,20/ooi/dag (afhangend van die koste van die hooi).
  3.  Oorlewing van koeie
    1. 8 kg hooi/koei/dag
    2. 1 tot 1,5 kg produksielek/koei/dag
    3. Die koste daarvan om koeie op bogenoemde rant­soen te laat oorleef, beloop omtrent R7,50 tot R8,85/koei/dag. Die koste sal afhang van die koste van die hooi.
  4. Wanneer desperaatheid intree 
    1. 800 kg hooi
    2. 50 kg Lickmix 87 (Dundee lekkonsentraat)
    3. 150 kg melassemeel/graan
    4. Hierdie rantsoen moet as volvoer gemeng en gevoer word. Die voerkoste is ongeveer R1,37/skaap/dag en R10,95/bees/dag. Onthou dat daar ureum in hierdie rantsoen is en die bestuur moet baie goed wees, veral by skape.
  5. Wanneer jy erge desperaatheid bereik
    1. 300 kg hoendermis
    2. 500 kg hooi
    3. 200 kg melassemeel/graan
    4. Onthou dis altyd raadsaam om gesteriliseerde hoendermis te gebruik en om diere teen lamsiekte te ent alvorens enige hoendermis gevoer word. Die koste van hierdie rantsoen beloop ongeveer R1,27/skaap/dag en R10,50/bees/dag. Skape is egter nie baie lief vir die hoendermis nie en hoë vlakke van koper kan opbou.
WAT DOEN EK WANNEER DIE REËN WEER KOM?
Sodra die eerste druppels van die nuwe reënseisoen val, is ons almal so opgewonde soos kinders oor presente! Ongelukkig reën dit nie gras nie. Diere kan dus nie onmiddelik ná die eerste bui reën weer op die weidings losgelaat word nie, veral nie skape nie. 

Skape moet vroegtydig teen bloednier geënt word om vrektes as gevolg van die skielike verandering in hul dieet te voorkom. Wanneer diere op jong, groen weidings laat wei word, veral nadat hulle vir lank slegs droë ruvoer gevreet het, kan “grass stagger disease” voorkom. Dit word veroorsaak deur ’n magnesiumtekort as gevolg van hoë stikstofvlakke in die plante. Indien vermoed word dat diere “grass staggers” het, kontak dadelik ’n voedingskundige vir raad in verband met jou spesifieke behoeftes en omstandighede.

Onthou ook dat die weiding tien teen een beska­dig is in jou pogings om die diere aan die lewe te hou. Die weiding het nou ook rus nodig om te kan herstel. Omdat weidings slegs rus wanneer dit groei, kan jy nie redeneer dat die weiding nou reeds vir drie of vier maande nie vee opgehad het nie en dus voldoende gerus het nie. Hoe langer diere van die weiding af gehou kan word, hoe beter sal die wei­ding herstel. Indien die kort, groen grassies dadelik bewei word, gaan die herstelproses langer neem. ’n Praktyk wat gevolg kan word, is om die kampe wat die druk kan hanteer soos vleie te benut en te sorg dat die ander kampe dan ten volle rus, voor hulle benut word.

Aangesien daar geen droë gras van die vorige seisoen gaan oor wees om die oorskakeling van droëvoer na groenvoer te vergemaklik nie, sal dit raadsaam wees om diere eers slegs vir kort tye op die weidings oop te maak. Hierdie weitye kan stelselmatig langer gemaak word totdat die diere weer voltyds op die weidings wei.

ALLES DIE MOEITE WERD
Dit is nie maklik of goedkoop om ’n droogte te oorbrug nie, maar proaktiewe optrede eerder as reaktiewe optrede verlaag die koste verbonde aan ’n droogte en verhoog die kanse om die droogte suksesvol die hoof te bied. Deur die korrekte droogtestrategie te volg, stel dit die produsent in staat om vinnig ná die droogte weer op volle kapasiteit te produseer.




Figuur 1: Samestelling van die uitgawes van ’n speen­kalfstelsel (85% speenpersentasie). Klik om te vergroot.

Izak du Plessis is ’n Senior Diereproduksie-spesialis by Senwes Landboudienste. Skakel hom gerus vir enige navrae by (056) 212-2291 of 084 504 6892. ’n E-pos kan gestuur word na
izak.duplessis@senwes.co.za. Boet van Zyl is ’n Senior Landbou-ekonoom by Senwes Landboudienste. Skakel hom gerus vir enige navrae by (051) 411-0101 of 072 260 2202 of stuur ’n e-pos na boet.vanzyl@senwes.co.za.





Verwante Artikels