Wolverbod op hoogtste vlakke bespreek

  • 01 Augustus 2022
  • 221
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dit volg nadat China aan die begin van April aangekondig het dat hy geen produkte van diere met gesplete hoewe uit Suid-Afrika sal aanvaar nie in reaksie op verskeie uitbrekings van bek-en-klouseer wat in die land aangemeld is. Op die keper beskou beteken dit dat die uitvoer van wol na China nou reeds vanaf April opgeskort is. Gedurende die vorige seisoen is ongeveer 80% van Suid-Afrika se wol na China uitgevoer.

Verskeie hoë-vlak vergaderings en besprekings is intussen gehou waar die erns van die uitwerking van dié verbod op die plaaslike wolbedryf beklemtoon is.

Volgens Cape Wools het hy onder meer ʼn video in Junie saamgestel om die prosedures te wys wat verseker dat vetwol wat na China uitgevoer word wel aan die internasionale standaarde voldoen  waardeur bek-en-klouseer geïnaktiveer word. Hierdie video is aan die Chinese doeane-owerheid, die departement van internasionale verhouding en samewerking, en die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling gestuur.

Die bedryfsorganisasie het in Julie in Pretoria met albei staatsdepartemente van landbou en internasionale verhoudinge vergader. Tydens dié vergadering is die moontlike katastrofiese gevolge wat die verbod op die bedryf kan hê, veral met die nuwe seisoen wat in Augustus ʼn aanvang neem, beklemtoon.

Die Suid-Afrikaanse ambassade in China kon egter nie goeie vordering maak op ʼn vergadering met doeane-amptenare om die erns van die verbod te bespreek nie.

Cape Wools het ook ʼn vergadering met Agbiz in Pretoria belê waarna Agbiz die kwessie met die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, en van handel, nywerheid en mededinging bespreek het. Die minister het gevolglik die kwessie na die kantoor van die presidensie verwys.

Die Internasionale Woltekstielorganisasie het ook ʼn vergadering tussen Cape Wools en die Chinese woltekstielvereniging bemiddel waar die erns van die situasie ook bespreek is. Die Chinese afvaardiging het onderneem om die kwessie onder die aandag van die regte doeane-amptenare te bring.

Volgens Cape Wools dui kommunikasie van die Chinese ambassade in Pretoria daarop dat Chine geen erkenning gee vir die protokolle wat sedert 2019 gevolg word om die bek-en-klouseervirus te vernietig nie.

* Hierdie artikel het oorspronklik op Landbou.com verskyn. 






Verwante Artikels