Senwes fokus voortaan opnuut op ontwikkelingskrieket

  • 22 September 2021
  • 341
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Senwes sal egter sy driejaarooreenkoms as hoofnaamborg van die Senwes Dragons-vrouekrieketspan uitsien.

Dié aankondiging beteken egter nie die einde van Senwes se betrokkenheid in die sport nie, maar eerder ʼn klemverskuiwing met ʼn hernieude fokus op ontwikkelingskrieket op plaasskoolvlak.

Volgens Sanmarie Schlebusch, Senwes se bemarkingsbestuurder, sal die Senwes Spinners- ontwikkelingsprojek, as die agri-besigheid se vlagskip sportprogram en as een van die suksesvolste ontwikkelingsprogramme in die land, verder ontwikkel en uitgebrei word ten einde gestalte te gee aan die besigheid se geïntegreerde benadering tot gemeenskapsbetrokkenheid.

“Ons sal altyd ons betrokkenheid by die Noordwes Krieket Unie koester, en ek is dankbaar om te sê dat ons méér as bloot ʼn borgskapsverhouding gehad het, maar eerder ʼn wedersydse vennootskap gehad het, en steeds het.”

Die Senwes Spinners-ontwikkelingsprojek demonstreer volgens Schlebusch Senwes se voortgesette verbintenis tot die uitlewing van sy sosiale en gemeenskaplike verantwoordelikheid teenoor die gemeenskappe waarin hy besigheid doen. “Hier by Senwes beskou ons plaasskole as die boustene van vooruitgang en as’t ware die behoud van die kleiner plattelandse gemeenskappe. Ons glo dat ons hier ʼn daadwerklike verskil kan maak deur die jeug deur middel van sport en lewensvaardighede opgewonde én opgewasse kan maak vir die toekoms. ‘n Toekoms waarin hulle as kampioene, nie net op die sportveld nie, maar ook in hul eie lewens na vore sal kan tree,” verduidelik Schlebusch.

Die ontwikkelingsprojek vir vanjaar sy 16de bestaansjaar en tesame met verskeie korporatiewe vennote sal die projek voortgedryf word met die oog op ʼn moontlike nasionale uitrol. Meer inligting hieroor sal op ʼn latere stadium bekend gemaak word.

“Ons wens die unie alles van die beste toe vir die komende seisoen. Mag julle van krag tot krag gaan, op die veld en waar ook al die administrateurs en die spelers die unie se vlag mag swaai. Baie geluk en sterkte ook met julle nuutgevonde status as een van die land se agt eersteliga spanne," sê Schlebusch. 





Verwante Artikels