Sakevertroue in landbou op die herstelpad

  • 16 September 2020
  • 275
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die nuutste verslag oor sakevertroue in die landbousektor, is onlangs deur Agbiz en die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) bekend gemaak, en toon dat die indeks van 39 punte na 51 punte gestyg het.

Wandile Sihlobo, Agbiz se hoofekonoom, meen die opwaartse aanpassing kan toegeskryf word aan onder meer die herstel van die sektor na die erge droogte en die feit dat landbou as noodsaaklike diens geklassifiseer is tydens die staat van inperking. Die impak van die sektor word voorts bevestig deur die syfers wat Statistieke Suid-Afrika (SSA) vroeër die maand uitgereik het. Hiervolgens het die landbousektor in die tweede kwartaal met 15,1% gegroei en het veral die produksie van graan, groente, vrugte en vleis gestyg.

Meer oor die indeks

Die indeks is gedurende die eerste twee weke van September saamgestel, en vervat insette van alle groot landboubesighede in alle sektore regoor die land.

Die opname, waaruit die indeks saamgestel word, het tien subindekse, naamlik: omset, netto bedryfsinkomste, markaandeel, indiensneming, kapitaalbelegging, uitvoervolumes, finansiële groei, algemene landboutoestande, debiteurevoorsiening vir slegte skuld en finansieringskoste.

Wandile verduidelik dat vertroue in bykans al die subindekse, behalwe vir indiensneming en voorsiening vir swak skuld, verbeter het. Ander subindekse wat op ʼn kwartaalgrondslag merkbaar verbeter het, sluit in omset en netto bedryfsinkomste wat onderskeidelik met 21 en 26 punte gestyg het. Dit word veral deur optimisme in die tuinboubedryf en die finansiële dienstesektor, asook gunstige produksietoestande vir winter- en somergewasse bevorder. Die verbetering van 19 punte wat die subindeks wat uitvoervolume betref, word toegeskryf aan die verswakking in die waarde van die rand, wat die randwaarde van uitvoere verhoog.

Vir meer inligting besoek gerus die Agbiz-webblad: https://agbiz.co.za/economic-intelligence-1/agribusiness-confidence 






Verwante Artikels