SA steier onder impak van misdaadpandemie – Agri SA

  • 02 September 2021
  • 777
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



In sy toespraak, ten tyde van die bekendmaking van die statistieke, het Bheki Cele, die minister van polisie, gesê dat die syfers nie met die vorige jaar sin vergelyk moet word nie aangesien die onderskeie vlakke van inperking tydens die Covid-19-pandemie ʼn beduidende impak op misdaadtendense gehad het. Hierdie aanname word ten sterkste deur Agri SA verwerp. Die organisasie meen dat die misdaadsyfers daarop wys dat iets drasties fout is in Suid-Afrika, ongeag die Covid-19-pandemie.

Volgens Uys van der Westhuijzen, voorsitter van landelike veiligheid by Agri SA, is die realiteit dat 5 760 mense volgens die jongste statistiek in drie maande vermoor is. Wat volgens hom meer kommerwekkend is, is die feit dat ten spyte van die aandklokreël baie van dié moorde gepleeg is nadat die aandklokreël ingestel is. “Die afleiding kan daarom gemaak word dat die aandklokreël nie na behore afgedwing word nie,” sê Van der Westhuijzen en voeg by dat verskeie faktore hiertoe kan bydra, waaronder ʼn tekort aan misdaadvoorkomingspersoneel, voertuie of hulpbronne.

In terme van kontakmisdade toon die statistiek dat daar in April, Mei en Junie onderskeidelik 50 295, 50 011 en 44 850 voorvalle aangemeld is, wat volgens Van der Westhuijzen ʼn klinkklare bewys is dat misdaad in Suid-Afrika hoogty vier.

Die gevaarligte flikker

Van der Westhuijzen voer verder aan dat die 181 aanvalle op plase en die 15 moorde op plase nie normale getalle vir enige samelewing is nie. Volgens die statistiek het die meeste aanvalle op plase vir die verslagdoeningstydperk, naamlik 57 aanvalle, in Limpopo plaasgevind

Nog ‘n kommerwekkende tendens is die toename in die aantal moorde op polisielede wat van diens af was. Altesaam 23 polisielede wat nie aan diens was nie, is vermoor teenoor 9 wat aan diens was.

In terme van misdaadvoorkoming en –bekamping meen Van der Westhuijzen dat dit wat op voetsoolvlak gebeur, naamlik hoe begrotings hanteer word en die doeltreffende funksionering van stelsels, nie tot mekaar spreek nie.

* Vir die nuutste volledige misdaadstatistieke besoek https://bit.ly/3gVgqrY








Verwante Artikels