Omnia neem reuse tree na groener vervaardiging

  • 14 Junie 2019
  • 620
  •  
  •  
  •  nuus



Omnia kan nou fosfaatrots in die produksieproses gebruik, pleks van duurder en moeiliker bekombare alternatiewe soos fosforsuur. 

Fosfaatrots kan van verskeie plaaslike en internasionale verskaffers verkry word, terwyl fosforsuur in Suid-Afrika slegs deur Foskor verskaf word. Dit gee aan Omnia groter beheer oor sy produksie-waardeketting en sal ook die deurset deur die maatskappy se salpetersuuraanleg verhoog. Dié aanleg word nie in hierdie stadium tot sy volle kapasiteit benut nie.

Die bou van die aanleg sluit ook aan by Omnia se benadering om ’n “beter wêreld” te skep, sê mnr. Jacques de Villiers (Besturende Direkteur van Omnia Nutrilogie™ in Suid-Afrika). Die vervaardiging van nitrofosfaat is heelwat meer omgewingsvriendelik as die produksie van fosforsuur, wat fosfaatbesmette gips as byproduk het. 

Tydens die vervaardiging van forsforsuur word die kalsiuminhoud van die rots in die vorm van gips verwyder. In die nitrofosfaat-proses word die kalsium gebruik om ander produkte te vervaardig wat die negatiewe invloed op die omgewing aansienlik verlaag. 

Salpetersuur word gebruik om die fosfaatrots te verteer met ’n gevolglike produk wat ryk is aan fosforsuur en kalsiumnitraat.
 
Soveel as moontlik van die kalsiumnitraat word gekristaliseer en geskei. Dit word dan skoongemaak en in Omnia se ammoniumnitraat/kalsiumnitraat (ANCN)- of Omnical™-aanlegte gebruik. 

Omnia Holdings, die houermaatskappy waarvan Omnia Nutrilogie™ ’n divisie is, besit ook BME, wat dan ANCN gebruik om plofstowwe te vervaardig. 
Die oorblywende produk nadat die kalsiumnitraat verwyder is, is ’n produk genaamd “Nitrophosphate Mother Liquer” (NPML). Dit bevat steeds klein hoeveelhede kalsiumnitraat en salpetersuur en is ryk aan fosforsuur. 

Die NPML word met ammoniak en swaelsuur geneutraliseer. Hierdie stap het ’n droë produk, naamlik Nitrofosfaat-poeier (NP) tot gevolg wat hoofsaaklik mono-ammoniumfosfaat, ammoniumnitraat, ammoniumsulfaat en ’n klein hoeveelheid gips bevat. 

Die NP (poeier) en NPML (vloeibaar) word dan as rou materiaal in Omnia se verkorrelingsaanlegte gebruik. “Omnia is die enigste plaaslike vervaardiger van chemies verkorrelde kunsmis, wat beteken dat elke korrel al die voedingstowwe bevat wat vir die spesifieke produk geregistreer is,” sê De Villiers. “Die bou van die nuwe aanleg differensieer Omnia selfs verder in die kunsmisbedryf, aangesien ons nou in staat is om op ’n baie groener manier kunsmis te vervaardig. 
“Ons fokus deurentyd op nuwe maniere om ons negatiewe invloed op die omgewing te verminder. Hierdie is ’n reuse tree in die rigting van ’n beter wêreld vir ons en elke mens in die plekke waar ons sake doen,” sê hy. 







Verwante Artikels