OBP | Dieregesondheidskenners vra dringende ingryping

  • 10 Januarie 2022
  • 495
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dit volg na talle vorige oproepe dat die diere-entstofvervaardigingvermoë dringend gered moet word.

Die brief fokus op verskeie kwessies by die OBP wat die gesondheidstatus van Suid-Afrikaanse vee-en pluimveeproduksie in gevaar stel. Hiermee ʼn samevatting van dié kwessies.

Beskikbaarheid van entstowwe

Die opstellers van die brief skryf dat baie van die entstowwe wat die OBP vervaardig, nêrens anders beskikbaar is nie. Dit sluit onder meer die entstowwe vir Afrika-perdesiekte, slenkdalkoors, bloutongsiekte, hartwater, anaplasmose, rooiwater en knopvelsiekte in. Dit word gestel dat hoewel afleweringstye in die verlede vertraag was, dit nou tot ʼn algehele stilstand gekom het. Die situasie is so benard dat die nuus plek-plek versprei dat die OBP as ʼn entstofmaatskappy in werklikheid ontbind het.

Volgens die skrywers kan die impak van die situasie tesame met die goeie somerreën wat onlangs oor ʼn groot deel van die land geval het, en gevolglik gunstige toestande skep vir vektore wat dieresiektes kan versprei, tot ʼn somber jaar vir Suid-Afrikaanse veeproduksiesektore lei.

Wanbesteding en ander misdrywe

Nog ʼn kwessie wat in die brief geopper word, sluit in dat R500 miljoen wat die parlement in 2014 bewillig het vir die bou van ʼn nuwe entstofaanleg, wat ten volle aan regulasies sou voldoen, steeds nie vir die oorspronklike beoogde doel aangewend word nie.

Hiermee saam word dit ook gestel dat ʼn veldtog deur sommige voormalige en huidige OBP-raadslede wat deur die minster van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling aangestel is (en deur OBP-personeellede en van hul vakbonde ondersteun word), daartoe gelei het dat dr Baptiste Dungu, ʼn toepaslik bekwame en toegewyde uitvoerende hoof van die OBP summier geskors is.

Verskeie forensiese ondersoeke wat voorts teen voormalige raadslede en personeel wat van misdrywe by die OBP verdink word, is ook na bewering goedsmoeds laat vaar.

Verantwoordbare bestuurspraktyke

Die skrywers stel dit onomwonde dat die OBP dringend behoorlike professionele bestuur verlang ten einde sy mandaat na te kom. Hiermee saam benodig die OBP groter deursigtigheid in die ondersoek na beweerde misdadige bedrywighede en onbevoegdheid.  

Nog ʼn brandpunt is die entstofstamme wat deur die Onderstepoort Veterinêre Navorsingsinstituut met belastingbetalers se geld ontwikkel is. Die skrywers meen dié stamme moet aan private maatskappye beskikbaar gestel word indien die OBP nie die beskikbaarheid van entstowwe in die volgende drie maande kan waarborg nie.

Hulle vra om ingryping

Die brief se skrywers sluit onder meer in dr Pieter Vervoort (private veeartsenykundige konsultant en voormalige OBP-raadslid), dr Leon de Bruyn (president van die Suid-Afrikaanse Veeartsenykundige Vereniging), James Faber (nasionale voorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie), dr Alan Guthrie (direkteur van die perdenavorsingsentrum), dr George de Kock (voorsitter van die internasionale wolhandel biosekuriteitswerkgroep en die Cape Wools-navorsingsadvieskomitee), dr Alf Lategan (voorsitter van die Herkouerveterinêre Vereniging van Suid-Afrika), dr Faffa Malan (besturende direkteur van die Herkouerveterinêre Vereniging), Tshililo Ramabulana (voormalige voorsitter van die OBP-direksie), Christo van der Rheede (uitvoerende direkteur van Agri SA), prof Ed Rybicki (direkteur van die Biofarmaboerdery-navorsingseenheid aan die Universiteit van Kaapstad), prof Anna-Lise Williamson (lid van die instituut vir aansteeklike siektes en molekulêre geneeskunde aan die Universiteit van Kaapstad) en Billy van Zyl (voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging).






Verwante Artikels