Lizelle slaan kompetisie vir ʼn ses

  • 02 Junie 2021
  • 285
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Lizelle is nie net as Momentum se internasionale eendagspeler van die jaar aangewys nie, maar het ook die gesogte KFC Streetsmart-toekenning ingepalm.

Sy was ook ʼn finalis in die volgende kategorieë: SA Ondersteuners se Speler van die Jaar en die SA Vroue Speler van die Jaar.

ʼn Blink kolfseisoen

Lizelle het vanjaar behoorlik onder die boulers ingeklim en ʼn indrukwekkende seisoen met die kolf geniet. Tydens die Proteas se internasionale eendagreeks teen Indië het Lizelle ʼn loopbaan beste kolflopie van 132 lopies behaal. Sy is gevolglik ook as Speler van die Reeks aangewys. 

Lizelle het tydens die afgelope seisoen 384 lopies aangeteken, met ʼn gemiddeld van 76,80 lopies per kolfbeurt.

Die KFC Streetsmart-toekenning is aan Lizelle gemaak na aanleiding van haar uitsonderlike vertoning in Indië vroeër vanjaar. Sy het veral uitgeblink tydens die derde internasionale eendagwedstryd in Lucknow waar sy twee sesse en 16 grenshoue gemoker het. Hierdie vertoning het haar ook die nommer een posisie op die internasionale ranglys vir vroue kolwers geplaas. Suid-Afrika het die reeks in Indië oortuigend met 4 – 1 gewen. Die ander finaliste in hierdie kategorie was: Faf du Plessis, Shabnim Ismail, George Linde, Aiden Markram en Anrich Nortje.

Nog uitblinkers

Drie van Lizelle se Dragons- en Momentum Protea-spanmaats is ook vir nasionale toekennings benoem.  Hierdie spelers is: Anneke Bosch, Masabata Klaas en Tazmin Brits.

  • Anneke Bosch is genomineer vir die Momentum T20 Internasionale Speler van die Jaar.
  • Masabata Klaas is genomineer vir die KSA Aflewering van die Jaar.
  • Tazmin Brits is genomineer vir die Momentum T20 Internasionale Speler van die Jaar.

Hartlik geluk!

Francois Strydom, Groep Hoof Uitvoerende Beampte van Senwes, meen dat hierdie spelers nie net die vlag van Suid-Afrikaanse krieket hoog laat wapper nie, maar ook dié van hul borge, provinsiale unie en hul onderskeie gemeenskappe.

“Dit is ʼn besonderse voorreg om erkenning op hierdie hoë vlak te geniet, en daarom – van almal by Senwes, baie geluk met julle prestasies!





Verwante Artikels