Entstof teen snotsiekte dalk plaaslik ontwikkel

  • 09 Maart 2021
  • 2070
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Meer nog, dit sal ook help om ʼn gesonde verhouding tussen bees-en wildboere te bevorder terwyl dit ook voedselsekerheid positief sal beïnvloed.

So sê dr Sello Maboe, veearts en tegniese bestuurder by Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) na die aankondiging dat OBP ʼn lisensie-ooreenkoms met die Moredun-navorsingsinstituut in Skotland onderteken het wat die weg baan vir die ontwikkeling van ʼn entstof teen snotsiekte. Die lisensie-ooreenkoms sal OBP in staat stel om tegnologie aan te skaf wat die finale ontwikkeling, registrasie en produksie van hierdie entstof bevorder.

Snotsiekte is ʼn aanmeldbare virussiekte wat onder beeste voorkom en waarvoor daar tans geen behandeling is nie. Dit word hoofsaaklik deur swart-en blouwildebeeste oorgedra.

Volgens dr Peter Oberem, veearts en wildboer, tree gesonde wildebeeste op as die gasheerdier van die snotsiektevirus en word die virus deur die lugweë vrygelaat as die dier onder spanning verkeer. Wanneer die dier se immuniteit onderdruk word, byboorbeeld tydens kalwing of wanneer kalwers gespeen word, kan beeste binne ʼn kilometer daarvan aangesteek word. Simptome begin na ʼn maand of langer wys.

Aangetaste diere ontwikkel ernstige longontsteking, wat asemhalingsprobleme tot gevolg het. Die dier versmoor uiteindelik in sy eie slym. Diere met gevorderde gevalle van snotsiekte word, dikwels van kant gemaak om verdere lyding te voorkom.

“Hoewel beeste tydens hoërisiko-periodes van wildebeeste weggeskuif word, kan ʼn entstof bykomende beskerming vir beeskuddes bied, veral waar die skuif van diere nie moontlik is nie,” verduidelik dr Maboe.

Kontinent kan baat by bewese navorsing

Volgens dr George Russel, hoofwetenskaplike van die Moredun-navorsingsinstituut, word daar reeds die afgelope 15 jaar aan ʼn entstof gewerk en is daar reeds verskeie suksesvolle eksperimentele sowel as veldproewe in die Verenigde Koninkryk, Kenia en Suid-Afrika behaal.

Hy verwelkom die vennootskap tussen die navorsingsinstituut en OBP en is opgewonde oor die vooruitsig van die ontwikkeling van ʼn entstof vir gebruik in Afrika.

Volgens dr Baptiste Dungu, OBP se uitvoerende beampte, verteenwoordig dié samewerkingsooreenkoms ʼn gulde geleentheid vir OBP om die voortou te neem in die bekamping van snotsiekte wat nie net in Suid-Afrika probleme veroorsaak nie, maar ook elders in Afrika.





Verwante Artikels