Droogte tot nasionale ramp verklaar

  • 22 Julie 2021
  • 442
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Gebiede wat die afgelope paar jaar reeds onder erge droogtetoestande gebuk gaan sluit onder meer die suidelike en westelike gebiede van die Noord-Kaap, dele van die Karoo, die Klein-Karoo en die Nelson Mandela-en Sarah Baartman-munisipale gebiede in die Oos-Kaap in.

Volgens Willem Symington, adjunkpresident van Agri Noord-Kaap, ervaar van hierdie gebiede reeds die afgelope ses tot nege jaar erge droogte. Hy vertel dat boere finansieel baie swaar trek en op donasies moet staatmaak om hul boerderye aan die gang te hou.

“Droogtehulp is van staatsdepartemente ontvang, maar daar is steeds dringende finansiële steun nodig om nie net plaaslike ekonomieë te red nie, maar ook om oorblywende kernkuddes se oorlewing te help verseker,” sê Symington en voeg by dat hul van die private sektor, donateurs en ander instansies baie help om boere en werkers op plase te hou.

Symington meen dat die besluit om die droogte tot nasionale ramp te verklaar, ʼn stap in die regte rigting is om die nood in die droogtegeteisterde gebiede te erken. “Ons hoop dat daar voldoende optrede en hulp sal wees om die landbousektor en plaaslike ekonomieë te ondersteun om die droogte se uitwerking die hoof te bied,” sê Symington en voeg by dat bestaande strukture nou versterk moet word en dat gebeurlikheidsplanne geaktiveer moet word om daadwerklike aandag aan die ramp te gee. Dit sluit in dat die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag, die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) en ander staatsorgane die nasionale rampbestuursentrum moet ondersteun met die rapportering en verslaggewing oor die droogtetoestande. 






Verwante Artikels