Byeboere loop deur onder diefstal en vandale

  • 09 Junie 2021
  • 110
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dié stand van sake het aan die lig gekom nadat 250 kommersiële byekorwe van Midlands Honey onlangs in ʼn bosbouplantasie in KwaZulu-Natal vernietig is. Volgens die eienaar, Craig Campbell, sal dit etlike jare neem om die impak van die skade te oorkom. Behalwe vir die finansiële onkostes om die korwe te herbou en die kolonies te hervestig, is Campbell ook besorg oor sy werkers wat van die boerdery afhanklik is vir 'n inkomste.

Landbouweekblad berig dat verskeie kommersiële byeboere na afloop van dié kwaadwillige saakbeskadiging van Campbell se byekorwe na vore gekom het om hul lot te bekla. Volgens dié boere is die diefstal van heuning uit byekorwe, die gepaardgaande vernietiging van korwe en die doodmaak van hul swerms ʼn gereelde verskynsel wat wydverspreid oor die land voorkom.

Volgens Inge Lotter, koördineerder van die Mpumalanga-byegroep, het misdaad aktiwiteite haar verlede jaar genoop om R100 000 aan beskermingsmaatreëls te bestee om haar korwe te beveilig nadat sy 200 byekolonies en 76 byekorwe verloor het. ʼn Korf en ʼn swerm word, volgens Lotter, saam teen ongeveer R3 000 gewaardeer, uitgesonder die rame en ander toerusting wat gebruik word.

Die bekamping van hierdie misdade word bemoeilik deur die feit dat heuningbye en byekorwe nie ingevolge die Wet op Veediefstal (Wet 57 van 1959) beskerm word nie. Dit beteken dat byeboere, soos Campbell en Lotter, die verliese verbonde aan die steel en beskadiging van korwe as ʼn besigheidsuitgawe moet dra.

* ʼn “BackaBuddy”-veldtog is intussen vir Campbell van stapel gestuur.






Verwante Artikels