Aartappelbedryf betaal duur vir goedkoop skyfies

  • 03 Augustus 2021
  • 429
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Oorskot produkte, soos gevriesde aartappelskyfies, word lank reeds op die Suid-Afrikaanse mark gestort en pogings vanaf die plaaslike bedryf om dié storting te beveg is ʼn ernstige knou toegedoen toe teenstortingstariewe nie betyds hernu is nie.

Hierdie teenstortingstariewe sou reeds in Augustus 2019 verstryk het, maar McCain Foods het op 7 Februarie 2019  ʼn aansoek om dit te verleng aan die kommissie vir internasionale handelsadministrasie (Itac) gestuur. Itac, wat ʼn belangrike rol in die instel van invoertariewe speel, het gevolglik 18 maande gehad om die aansoek te oorweeg.

Produsenteorganisasie vra vir hulp

Volgens Willie Jacobs, uitvoerende hoof van Aartappels Suid-Afrika (ASA), benodig dié produsente- organisasie hulp en ondersteuning teen die komende vloed van aartappels uit Europa.

Hy waarsku dat groot volumes goedkoop, gevriesde aartappelskyfies binnekort in die land se hawens sal aankom. “Die stryd wat ons voer teen oorsese produkte wat hier gestort word, het ʼn lang geskiedenis en die onlangse beskerming wat ons gehad het, is nou nie meer daar nie,” verduidelik Jacobs en voeg by dat dié storting die plaaslike aartappelmark, wat reeds onder groot druk verkeer, finaal kan knak.

Jacobs meen dat Suid-Afrikaanse vervaardigers en produsente reeds verskeie uitdagings weens die Covid-19-pandemie moet oorkom, terwyl die uitwerking van die onlangse geweldpleging regoor die land, stygende insetkostes en die dalende markpryse nie uit die oog verloor moet word nie. “Ons het bloot nie die voordeel van finansiële steun wat ons Europese eweknieë van hul regerings onvang nie. En om hierdie rede kan ons eenvoudig net nie meeding met produkte wat onder ons kosprys hierheen gestuur word nie,” sê Jacobs.

Volgens Jacobs kring die impak van die stortingsaktiwiteite wyd uit en kan mense hul werk, ondernemings en lewensmiddele verloor. Dié gevolge sal voorts die Suid-Afrikaanse ekonomie kniehalter.

So dra plaaslike aartappelbedryf by tot die ekonomie

Op die keper beskou dra die plaaslike aartappelbedryf sowat R8,5 miljard tot die ekonomie by, en verskaf die bedryf werk aan ʼn geraamde 45 000 permanente en seisoenale werkers. Jaarliks word daar gemiddeld 50 000 hektaar aartappels aangeplant, wat sorg vir oeste wat tot 45% van die land se totale groenteoes verteenwoordig.

Onverwerkte aartappels se waarde staan op R7,5 miljard, en as dit verwerk word styg hierdie waarde tot R26 miljard.






Verwante Artikels