Senwes is gereed om te dien tydens die 21-dae nasionale staat van inperking

  • 27 Maart 2020
  • 929
  •  
  •  
  •  press-release



Die president het aangedui dat sekere bedrywe as noodsaaklik beskou sal word en dat hierdie bedrywe operasioneel sal bly vir die volle duur van die staat van inperking. Maatskappye betrokke in die produksie, verspreiding en verskaffing van voedsel en basiese goedere, noodsaaklike bankdienste, die instandhouding van krag, water en telekommunikasiedienste, laboratoriumdienste en die verskaffing van mediese en higiëneprodukte maak deel uit van hierdie noodsaaklike dienste en sal dus ononderbroke voortgaan.

Senwes het 'n verantwoordelikheid om betekenisvolle bydraes te maak tot voedselsekuriteit in Suid-Afrika deur volhoubare landbou. Hierdie verantwoordelikheid strek oor verskeie segmente in die landbouwaardeketting wat onder andere die verskaffing van insette en meganisasieoplossings, graanhantering en -opberging en logistieke oplossings vir voedselprodusente en ander rolspelers in die waardeketting insluit.

Voedselsekuriteit, te midde hierdie COVID-19 wêreldwye pandemie, bly krities vir die oorlewing en welstand van alle Suid-Afrikaners. Die Senwes Groep, (wat bestaan uit Senwes, Senwes Equipment, Staalmeester, Falcon, JD Implemente, Hinterland, Hinterland Fuels, KLK Landbou, Bastion, Senwes Graanmakelaars, Tradevantage, Grainovation en Certisure) sal voortgaan om sy deel te doen om kontinuïteit van die voedselwaardeketting te verseker deur operasioneel te bly. Normale werksure sal gehandhaaf word regdeur die besigheid, met uitsondering van Hinterland, Senwes se kleinhandelsvennoot, wat slegs besigheid sal bedryf op weeksdae tussen 08:00 en 15:00.

Ons personeel bly ons eerste prioriteit tydens hierdie periode en, in die lig daarvan, wil ons die algemene publiek verseker dat die nodige voorsorgmaatreëls in plek is om hul veiligheid te verseker. Die meeste van ons werknemers sal van die huis af werk en diegene wat wel op kantoor is, sal in isolasie besigheid bedryf.

Bly asseblief veilig, pas uself op en ons plaas ons vertroue in God, ons Verlosser.

EINDE

Navrae: Francois Strydom
Groep Hoof Uitvoerende Beampte
Tel: +27 18 464 7115
francois.strydom@senwes.co.za
www.senwes.co.za








Verwante Artikels