SAVPO bepleit kompartementstelsel om biosekerheid te bevorder

  • 14 September 2021
  • 238
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



ʼn Kompartementstelsel verwys na ʼn gedefinieerde gebied op ʼn varkplaas wat deur ʼn fisieke versperring (soos ʼn heining) omring is, waarin ʼn varkbevolking onder streng biosekerheidsmaatreëls gehuisves, gemonitor en bestuur word. In Suid-Afrika moet ʼn kompartementestelsel aan die veeartsenykundige prosedurele regulasie 39 van 2011 voldoen en beskik oor ʼn unieke ZA-nommer.

Alle varke op ʼn plaas wat aan dié regulasies voldoen, moet ook volgens die Diere-identifikasiewet getatoeëer word.

Rol van SAVPO

Dr Peter Evans, wat verantwoordelik is vir kliënteskakeling by SAVPO, het in ʼn media-onderhoud gesê dat te midde van Afrikavarkpes, wat ʼn groot gevaar vir die plaaslike varkbedryf en die wêreld inhou, is dit belangrik om oorsese klante bewus te maak van die doeltreffendheid van plaaslike kompertementstelsels.

Volgens hom moet versekering veral gegee word dat indien ʼn siekte in ʼn kompartement uitbreek, die effektief geïdentifiseer sal word alvorens die vleis sy bestemming bereik.

Evans verduidelik voorts dat SAVPO baie moeite doen ten einde bewusmaking en opleiding, veral vir kleiner produsente, te bevorder. Hierdie bewusmaking en opleiding geskied via mentors, konsultante, spesiale geleenthede soos boeredae, studiegroepe en kommunikasieveldtogte.

Landswyd is daar tans 70 plase wat baatvind by SAVPO se mentorskapprogram.

UItvoermoontlikhede

Suid-Afrikaanse produsente voer tans suksesvol uit na verskeie buurlande, asook na Zambië en Malawi.

Volgens Evans word ondersoek voorts ingestel na die moontlikhede om na lande in Sentraal-, Oos en Wes-Afrika, asook verskeie Asiatiese lande uit te voer, waar die uitvoervereistes baie streng is.

In die lig hiervan moet omvattende inligting oor Suid-Afrikaanse siektestatus en moniteringsprogramme gegee word. Laasgenoemde proses word grotendeels deur SAVPO gedryf omdat die staat nie oor die kapasiteit of hulpbronne beskik om die nodige aanvoerwerk te doen en hierdie markte oop te maak nie. 






Verwante Artikels