SA wolbedryf hoopvol op herstel – NWKV

  • 15 September 2020
  • 160
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Wolprodusente het verlede week  ʼn sug van verligting geslaak na ʼn styging van 1,1% (in randterme) tydens veilingverkope op die internasionale mark. Dié styging is volgens Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, ʼn sprankel hoop vir die bedryf en hy glo dat die mark nou ʼn draaipunt bereik het.

In terme van uitvoere, word ongeveer 90% van Suid-Afrikaanse wol na Sjina, Egipte, Tsjeggië, Indië en Italië uitgevoer, waar dit vir die tekstielmark verwerk word.

ʼn Moeilike jaar agter die rug

De Beer het tydens ʼn onlangse media-onderhoud verduidelik dat die 2018-’19 finansiële jaar sy tol op die bedryf geëis het. Die uitbreking van bek-en-klouseer in dele van die Limpopo-provinsie het in Januarie 2019 tot ʼn verbod op die verkoop van wol gely, ʼn eerste vir die bedryf in meer as 40 jaar. Hierdie verbod het nie net die plaaslike mark negatief beïnvloed nie, maar ook uitvoere beperk.

Die voortslepende droogte het voorts ook ʼn demper op transaksies geplaas terwyl die koronaviruspandemie en die gepaardgaande inperkingsmaatreëls almal verder onkant gevang het. Dit was nie net Suid-Afrikaanse wolprodusente wat geraak is nie, maar ook die hele wolbedryf binne die globale wolketting.

Hoewel landbou tydens die koronaviruspandemie as ʼn noodsaaklike diens geklassifiseer is, het kommoditeite soos wyn, blomme, sybokhaar en wol onder geweldige druk verkeer as gevolg van beperkte handelsmoontlikhede na aanleiding van die streng inperkingsmaatreëls. Die uitvoer van wol is eers in April toegelaat na ʼn intensiewe onderhandelingsproses.

“Ons doen alles in ons vermoë om weer ten volle op dreef te kom, en ek is hoopvol dat die heropening van die wêreldmarkte ons in dié proses sal ondersteun,” sê De Beer.

ʼn Statistiese blik op die wolbedryf

Die impak en omvang van die waardeketting word duidelik gereflekteer in die volgende statistiek, soos deur die NWKV saamgestel:

  • Daar is ongeveer 15 miljoen wolskape in Suid-Afrika, waarvan 4 miljoen skape deur opkomende en gemeenskapsboere besit word.
  • Die bedryf word verteenwoordig deur ongeveer 6 000 kommersiële produsente.
  • Die opkomende produsente lewer ongeveer 13% van die bedryf se produk.
  • Ongeveer 35 000 plaaswerkers en 4 000 skaapskeerders en wolhanteerders is in die nasionale bedryf werksaam.
  • Ongeveer 45 miljoen kg wol word per jaar deur Suid-Afrika uitgevoer.
  • Suid-Afrika produseer ongeveer 12% van die wêreld se wol.
  • Woluitvoere beteken jaarliks ongeveer R5 miljard vir Suid-Afrika.





Verwante Artikels