Nuwe werkskomitee fokus op landelike veiligheid

  • 30 Junie 2022
  • 304
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Hierdie komitee het die lig gesien na ʼn twee dae lange landelike veiligheidsberaad wat deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAP) in die Vrystaat aangebied is. Die beraad is bygewoon deur onder meer landbou-organisasies, produsente, boere, tradisionele leiers, plaaswerker-en-bewoner-organisasies, asook aktiviste teen plaasmoorde. Een van die besprekingspunte op die agenda was die vordering met die toepassing van die landelike veiligheidstrategie wat in 2019 aanvaar is.

Na afloop van die beraad is deelnemers in ses kommissies verdeel wat oplossings moet bespreek vir kwessies soos plaasaanvalle en -moorde, veediefstal, ongeregistreerde plaaswerkers, werkersregte, ontwettige grondbesettings en ontwettige uitsettings. Die nasionale werkskomitee sal voortaan kwartaalliks ontmoet om verdering met hierdie kwessies te beoordeel sodat landelike veiligheid bevorder kan word.

Gemeenskapsbetrokkenheid is belangrik

Die minister van polisie, Bheki Cele, het die komitee voorts opdrag gegee om binne sewe dae ʼn aksieplan te ontwikkel wat aan die kabinet voorgelê kan word. Genl. Fannie Masemola, die nasionale polisiekommissaris, het op sy beurt gesê dat verhoudings en vennootskappe tussen die polisie en ander belanghebbendes van deurslaggewende belang is om te verseker dat daar vinnig teen misdaad in landelike gebiede opgetree word.

“As die polisiediens mik ons om doeltreffende kapasiteit en vermoëns in die landelike gebiede te bou, te verseker dat daar toegang tot die polisie se dienste is en om dienslewering aan landelike gemeenskappe te verbeter. Ons wil ook ons infrastruktuur en hulpbronne by polisiekantore in landelike gebiede verbeter, maar die belangrikste is om gemeenskapsbetrokkenheid en onderlinge samewerking te verseker” sê Masemola.






Verwante Artikels