#NIG2022 | Beter toegang: infrastruktuur en logistiek

  • 18 Mei 2022
  • 226
  •  
  •  
  •  press-release



Fasiliteerder, Theo Vorster, het die impak van logistiek op die sektor en wat gedoen kan word om hierdie uitdaging te oorkom, met 'n paneel bedryfskundiges bespreek tydens die derde sessie van Nasie in Gesprek te Nampo Bothaville op 18 Mei 2022. Die paneel het mense soos dr Pieter Taljaard (Graan SA), dr André van der Vyver (South African Cereals and Oilseeds Trade Association: SACOTA), Misumzi Xata (PPECB) en Jan-Louis Spoelstra (Flying Swans Foundation) ingesluit.

Vorster het die sessie afgeskop met die stelling dat dit problematies in 'n groeiende landbousektor is dat indien kommoditeite nie uitgevoer kan word nie, dit terugwaarts in die mark inbeweeg moet word, wat eenvoudig nie groot genoeg is om die produkte te akkommodeer nie. Met dit in gedagte, is die behoefte aan 'n effektiewe, volledig funksionele en bemagtigende infrastruktuur van kardinale belang vir die sektor - nie net in belang van die voorsiening van kwaliteit, bekostigbare voedsel en die bevordering van winsgewende volhoubaarheid nie, maar ook om buitelandse inkomste te verseker.

Dr Van der Vyver se siening oor die uitdagings wat die huidige infrastruktuur bied, is dat groei sal moet plaasvind ten einde enige besigheid in staat te stel om te oorleef. Graanproduksie in Suid-Afrika het oor die afgelope 10 tot 12 jaar met sowat 9% per jaar gestyg. Die keersy van die munt is egter dat die vraag na graanprodusente met slegs 2% per jaar toegeneem het. Hierdie realiteit skep dus 'n reuse geleentheid vir die land om buitelandse inkomste deur uitvoere te genereer.

Op sy beurt het dr Taljaard 'n prentjie geskets van 'n ernstige agteruitgang van die spoorinfrastruktuur en daarna verwys dat 80% van alle graan per spoor uitgevoer is 20 jaar gelede, wat geleidelik gedaal het na die huidige 17%. Dié daling het nie net 'n impak op plaaslike voedselsekuriteit nie, maar ook op die globale mededingendheid van die sektor, aangesien dit alle kommoditeite affekteer. Spoelstra het die geleentheid wat opgesluit is in die gebruik van 'n effektiewe spoorinfrastruktuur geïllustreer deur te verduidelik dat 'n behoorlik funksionerende goederetrein die druk op die padinfrastruktuur met 100 trokke per vrag kan verlig.

Volgens Xata vloei tussen 60% en 70% van alle landbou-uitvoere deur die Durban hawe, wat ernstige opeenhopings veroorsaak. Met dit as agtergrond, is die vraag gestel of dit moontlik sou wees om verdere effektiwiteite te ontsluit deur ander hawens, soos Oos-Londen, te gebruik.

Die paneel het 'n lang gesprek gevoer oor die waarde van privaat-openbare vennootskappe en ter illustrasie van die sukses van sodanige vennootskappe, het Spoelstra aangedui dat die volume graan per spoor vanaf 3,5m ton na 250m ton per jaar verhoog het toe die privaatsektor beheer oorgeneem het van die spoorweë in Suid-Amerika. Volgens hom is Transnet besig met 'n groot poging om sodanige vennootskappe te vestig en groot konglomerate soos Sasol en Omnia vorm reeds deel daarvan in die vorm van vlote spoorwegtrokke in privaat besit.

Die paneellede was van mening dat ten einde vooruit te beweeg, dit van die uiterste belang is om in privaat-openbare vennootskappe te belê en om 'n balans te vind tussen kort- en langtermynbehoeftes. Spoelstra som op deur te verwys na die noodsaaklikheid van die sogenaamde bondgenootskap van wenners. Laasgenoemde verwys na die samewerking van alle rolspelers regoor die onderskeie waardekettings ten einde oplossings vir die onderskeie uitdagings te vind.






Verwante Artikels