Moontlike regsoptrede wag op Staat oor swak paaie in Vrystaat

  • 27 September 2021
  • 474
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die swak toestand van die paaie in die Vrystaat was een van die groot gesprekspunte tydens die onlangse jaarkongres van Vrystaat Landbou (VL). Volgens Francois Wilken nuut herverkose president van VL sal die organisasie binnekort ʼn besluit neem oor moontlike regsoptrede teen die staat vanweë die versuim om die gehawende provinsiale paaie in stand te hou.

In sy presidentsrede het Wilken gesê dat die organisasie deur opnames bevind het dat die provinsie se paaie die swakste in Suid-Afrika is. Hy voeg ook by dat boere reeds alles probeer het om die provinsiale regering te dwing om sy grondwetlike plig na te kom en die paaie te onderhou.

Wilken het voorts daarop klem gelê dat gemeenskappe moet mobiliseer om in hul spesialisvelde oor te neem waar die Staat misluk. Wilken het in hierdie verband ʼn versoek aan lede gedoen om hande te vat en dorpe te bou wat toekomsgereed sal wees.

In Julie vanjaar het VL-opname getoon dat boere in die provinsie reeds meer as R6 miljoen aan padonderhoudswerk bestee het. Wilken het toe gesê dat die gebrekkige regeringsvermoë en traagheid om paaie te herstel die landbousektor toenemend noop om self hand in eie boesem te steek om uitdagings aan te spreek. “Die R6 miljoen-syfer is die werklike koste wat reeds aangegaan is en baie van dié instandhoudingswerk word waarskynlik nie eens aan die owerhede gerapporteer nie,” het Wilken gesê. Die uitgawes is nog hoër indien geleentheidskoste, produksietydsverliese, slytasie op toerusting en voertuigherstelwerk bygereken word.

Volgens VL is die situasie tans die ergste in die Noordoos-Vrystaat, waar daar in die Thabo Mofutsanyana-distrik ʼn groep van vyf boere is wat jaarliks meer as R1 miljoen moet bestee net om paaie gangbaar te hou.






Verwante Artikels