Groener SA in Eskom se visier

  • 13 Junie 2022
  • 350
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



De Ruyter het gesê Suid-Afrika staan aan die voorpunt om oor te skakel na omgewingsvriendeliker energiestelsels wat natuurlike energie wil omarm om sodoende die gebruik van fossielbrandstowwe drasties te verminder. Maar om dit te doen, het Eskom “biljoene en biljoene” rande nodig om hom heeltemal te rekonstrueer in ʼn poging om buitelandse beleggings vanuit die private sektor te lok.

Dit het De Ruyter duidelik gemaak op ʼn onlangse energiekonferensie in Kaapstad.

Volgens hom is die Suid-Afrikaanse regering ernstig om die land se energiestelsel te transformeer en wil Eskom die plan spoedig uitvoer, terwyl dit steeds sy ekonomiese doelwitte haal. Dit sal ‘n groot trekpleister wees vir verskeie plaaslike en internasionale beleggers.

Dit gaan egter nie net die belastingbetaler se beursie raak nie, maar nes Eskom ook op internasionale finansiering staatmaak, probeer die maatskappy om nou meer steun vanuit die private sektor te wen. “Die proses om oor te skakel na natuurlike energie is onvermydelik. Juis daarom het Eskom beleggers nodig om ʼn volhoubare infrastruktuur daar te stel,” het hy gesê.

Hoewel dit ʼn projek is wat biljoene rande gaan kos, is dit haalbaar, meen De Ruyter.

Werksgeleenthede

“Ja, daar gaan heelwat mense wees wat hul werk op steenkoolmyne gaan verloor, maar volgens navrosing gaan daar tot 160 000 nuwe werksgeleenthede – wat meer gaan wees as die verlies- geskep word.  Om oor te beweeg na die gebruik van hernubare energie en weg van steenkool is nie ‘n proses wat gevrees moet word nie. Dit gaan baie nuwe geleenthede vir Suid-Afrika en sy mense skep.”

De Ruyter beoog om ‘n groener Suid-Afrika oor die volgende 10 jaar te skep. Dié projek gaan na raming sowat R131 biljoen kos. Daarmee gaan onder meer 8 000 km tot 10 000 km se energieoordaglyne gelê en 101 nuwe substasies gebou moet word. Daar moet ook 3 000 MW tot 6 000 MW se gasgedrewe infrastruktuur ontwikkel word.

Mnr. Bernard Rey, hoof van die afvaardiging tussen die Europese Unie (EU) en Suid-Afrika, het beklemtoon dat Europa bankvas ager Afrika staan in die vasteland se poging om groener ontwikkelingstelsels te vestig en ondersteun die regering se doelwit om ‘n “skoonenergietoekoms” vir komende generasies te skep.

Hy het voorts gesê die EU onderneem om €150 biljoen (sowat R2 trilljoen) aan Afrika te skenk om klimaatsverandering te steun. Dit is aansienlik meer as die $8,5 biljoen wat die EU op die veelbesproke Cop26-beraad einde verlede jaar in Glasgow, Skotland, onderneem het.

Maar dit is Suid-Afrika se behoefte aan stabiliteit – midde die transformasieproses – wat hom steeds van steenkool afhanklik maak. Volgens De Ruyter  gaan Suid-Afrika nog lank na 2035 van steenkool gebruik.

“Suid-Afrika se ekonomie is geskiedkundig gegrond op steenkool. Die land kan hierdie amper eeue lange bydrae van die steenkoolbedryf nie miskyk nie. Daarom het ons ‘n morele en maatskaplike verantwoordelikheid om daardie opbrengste te behou en nie bloot te verwerp en gemeenskappe sonder werk te laat nie.”

Hy het gesê dit is ‘n verandering wat nie gevrees moet word nie, maar een wat almal eerder moet aangryp.

* Hierdie artikel het oorspronklik op Landbou.com verskyn.






Verwante Artikels