Pandemie plaas blaarslaaibedryf onder druk

  • 27 September 2021
  • 234
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Dew Crisp, ʼn groot blaarslaaiverskaffer met bedryfsentrums in Johannesburg en Kaapstad, het Covid-19 en die gepaardgaande inperkingsregulasies en aanklokreëls ʼn rampspoedige effek op die gasvryheidsbedryf en die restaurantsektor gehad.

“Ons produksievolumes is onder groot druk geplaas en telkens net wanneer ons dink die sektor toon tekens van herstel, dan word ʼn nuwe aanklokreël ingestel,” verduidelik Deon Vermaak, van Dew Crisp en voeg by dat die oppervlakteskatting vir blaarslaai vanjaar 15 tot 20% minder was as vorige seisoene.

Die aanklokreël van 21:00 uur, wat onlangs aangepas is, het volgens Vermaak ‘n einde aan spitstyd by restaurante veroorsaak, wat die vraag na blaarslaai, veral die Salonova-variteit, verminder het. Met die aanvang van die eerste streng inperkingstydperk gedurende 2020 moet produsente, volgens Vermaak, tientalle hektaar blaarslaai omploeg en het die vraag eers weer na behore toegeneem toe kitskos-deurrye weer toegelaat is.

Die Iceberg-variteit vaar volgens Vermaak beter, hoofsaaklik omdat kitskosrestaurante baie hiervan gebruik vir onder meer slaai.

As dit kom by spesialis-variëteit, veral met betrekking tot rooi-en groenblare en die Crunchita-variteit, is die aanvraag tans baie laag omdat verbruikers onder groot druk verkeer.

Produsente in Noordwes en Mpumalanga meen die vraag na spinasie en kool het toegeneem, terwyl daar ook ʼn neiging bespeur word van verbruikers wat eerder rou groente koop omdat dit ʼn langer raklewe het.





Related Articles