Die lus vir aartappels nog lank nie geblus

  • 20 October 2020
  • 1360
  •  
  •  
  •  nuus



Amazambane’ is die Zoeloe-woord vir aartappel en die veldtog poog om nie net die veelsydigheid van dié knolgroente te beklemtoon nie, maar ook om die talle gesondheidsvoordele hiervan aan Suid-Afrikaners bekend te stel. Die aartappelwaardeketting staan sentraal tot die veldtog en volgens ASA is dit belangrik om verbruikers in te lig oor die verskillende rolspelers wat ʼn aandeel daaraan het om dié stapelvoedsel van die grond na die bord te bring.

Volgens Immaculate Zinde, ASA se bemarkingsbestuurder, poog die veldtog voorts om Suid-Afrikaners te motiveer om hul verhouding met aartappels te heroorweeg, veral in die lig van die feit dat baie gesinne sukkel om kos op die tafel te sit ten tye van die koronaviruspandemie. “Ons wil vir mense verduidelik hoe belangrik ʼn gebalanseerde dieet is en dat aartappels ʼn voedsame stapelvoedsel kan wees,” sê Zinde en voeg by dat die veelsydigheid van aartappels daartoe bydra dat dit as die ideale styselaanvulling beskou word.

Gesondheid uit die grond uit

Aartappels is propvol voedingstowwe soos kalium, vesel, vitamien C en koolhidrate en volgens Zinde, bevat ʼn enkele aartappel slegs 110 kalorieë. Dit moet ook nie uit die oog verloor word dat aartappels vetvry en cholesterolvry is, terwyl dit ook geen natrium bevat nie.

Volgens die World Journal of Cardiology, voorkom aartappels die vorming van skadelike vry radikale, wat in die liggaam ophoop en kan bydra tot chroniese siektetoestande soos hartsiektes, diabetes en kanker.

ʼn Lewensvatbare bedryf

Die veldtog fokus ook op die impak wat die aartappelwaardeketting op die Suid-Afrikaanse ekonomie het. "Die toename in aartappelverbruik in Suid-Afrika gedurende die afgelope tien jaar bevestig dat die belegging in marktoegang en -ontwikkeling, sowel as generiese produkbevordering, vrugte afwerp," sê Zinde.

Sy voeg by dat ASA daarna streef om voortgesette ontwikkeling en omgewingsvriendelike bedryfstoestande vir die aartappelbedryf daar te stel wat onder meer die behoud van natuurlikehulpbronne, die instandhouding van landbougrond, en die verbetering van produksie- en bemarkingsmetodes insluit.






Related Articles