Image
 

20 November 2026

 

GEAGTE AANDEELHOUER

HANDELSOPDATERING: SENWES FINANSIËLE PRESTASIE VIR DIE SES MAANDE GEËINDIG 31 OKTOBER 2026

Aandeelhouers van Senwes word hiermee in kennis gestel dat daar 'n redelike mate van sekerheid bestaan dat verdienste vir die ses maande geëindig 31 Oktober 2026 ("die tussentydse tydperk") tussen 38% (agt-en-dertig persent) en 43% (drie-en-veertig persent) hoër sal wees vergeleke met die verdienste van R325 miljoen vir dieselfde tydperk van die vorige jaar.

 

Die Groep het voordeel getrek uit rekord nasionale mielie- en sojaboonoeste, wat aansienlik hoër graanvolumes deur ons silo's tot gevolg gehad het en tot 'n sterk prestasie deur die Marktoegang-segment bygedra het. Die Finansiële Dienste en Advies-segment het ook sy bedryfsresultate teenoor die vorige jaar verbeter, met beide die Krediet-segment en die Versekering- en Advies-segment wat tot die verbetering bygedra het.

 

Die bedryfsomgewing gedurende die tussentydse tydperk is egter deur uitdagende en onsekere omstandighede gekenmerk, insluitend hoër brandstof- en kunsmispryse weens die konflik in die Midde-Ooste, asook meer omsigtige besteding te midde van verwagtinge van El Niño-toestande vir die 2026/27-produksieseisoen. Hierdie omstandighede het druk op die Insetverskaffing-segment geplaas.

 

Die Verwerking, Kondisionering en Markte-segment het 'n laer resultaat gerapporteer, hoofsaaklik weens 'n laer bydrae van die rosyntjiebesigheid as gevolg van laer wêreldwye verkooppryse.

 

Senwes sal sy finansiële resultate vir die ses maande geëindig 31 Oktober 2026 op of omstreeks 4 Desember 2026 publiseer.

 

In opdrag van die direksie