Vertroue in landbou op rekordhoogtepunt

  • 17 Junie 2021
  • 455
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dié vertroue-indeks het tydens die tweede kwartaal van vanjaar op 75 gestaan, die hoogste punt sedert die indeks in 2001 begin is. ʼn Puntestand van 64 is tydens die eerste kwartaal behaal.

Die volgende subindekse het in terme van sentiment ook aansienlike groei getoon:

  • Volume uitvoer styg met 22 punte tot 78,
  • Kapitaalbeleggings styg met 23 punte tot 69 (die hoogste sedert 2016),
  • Die markaandeel van landboubesighede styg met 7 punte tot 78,
  • Algemene landboutoestande staan op 83 (ver bo die neutrale punt van 50),
  • Ekonomiese toestande styg met 39 punte tot 78 en,
  • Werkgeleenthede styg met 23 punte tot 66.

Faktore wat tot die positiewe uitkyk bydra sluit in die gunstige toestande vir rekord uitsetvlakke in alle subsektore asook die hoë internasionale en plaaslike markpryse. Laasgenoemde kan toegeskryf word aan die groeiende vraag uit Sjina en droë toestande in dele van Suid-Amerika.

Wandile Sihlobo, Agbiz se hoof-ekonoom, meen voorts dat die landbousektor vanjaar baie meer optimisties is oor die ekonomie. Hierdie optimisme kan toegeskryf word aan die algemene sentiment dat Suid-Afrika nou in herstelmodus is van die ekonomiese skok wat Covid-19 in 2020 veroorsaak het.

Volgens Sihlobo verwag Agbiz dat die landbousektor vanjaar, op ʼn jaargrondslag, met 5% kan groei. Aspekte soos gunstige weerstoestande en hoër pryse wat produsente se finansies verbeter het dra by tot hierdie verwagting.

“Uit ʼn produksieperspektief is ons in ʼn baie goeie jaar. Ons hoofbron van kommer is biosekerheidsprobleme in die lewendehawe-en pluimveesektor. Dit moet aandag kry om die gunstige momentum in die landbou vol te hou,” sê Sihlobo.






Verwante Artikels