Versterk vennootskap tussen regering en landbousektor vra Didiza

  • 18 Oktober 2021
  • 586
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Om hierdie rede is dit, volgens Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, belangrik dat bestaande verhoudinge tussen die regering en die landbousektor versterk word ten einde die sektor en die voedselwaardeketting se stabiliteit en volhoubaarheid te help verseker. Sy meen voorts dat die impak van die sektor tydens die inperking sterk na vore getree het, en ʼn lansie gebreek het vir effektiewe verhoudinge tussen die private sektor en die regering.

Didiza het tydens die onlangse Agri SA-jaarkongres gesê dat erkenning aan die landbousektor gegee moet word vir die uitsonderlike werk wat die sektor sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie gedoen het. In die lig hiervan was die besluit om die sektor as ʼn noodsaaklike diens voort te laat gaan, verseker die regte besluit en kon voedselsekerheid deurgaans verseker word.

Vertroue in die landbousektor neem steeds toe

Volgens die minister blyk die vertroue in die landbousektor toe te neem, veral gegewe die beleggings in die sektor en die toename in aanplantings.

Gedurende 2020 het hierdie faktore bygedra dat die sektor met 13,4% gegroei het en vir vanjaar is die verwagting dat landbou verder met tussen 6% en 7% kan groei.

Sy sê voorts dat selfs in subsektore waar uitdagings ervaar is, daar voortdurende kommunikasie plaasgevind het en dat daar ʼn dryf was na werkbare oplossings. “Ons hoop is daarop gevestig dat namate die ekonomie weer oopgaan, daar bykomende geleenthede sal wees om die herstel te bespoedig. As ons nie geldelike ondersteuning kan gee nie, sal ons kyk na ander maniere hoe ons kan help en waarde toevoeg,” gee Didiza die versekering.

Regering gerat om ondersteunende rol te speel

Volgens Didiza sal daar onverpoosd gewerk word om groter marktoegang tot verskeie lande te bewerkstellig.

Aspekte wat hier van belang is, is die geleenthede wat uit die Afrika-vryhandelsgebied na vore kom asook geleenthede in markte waarby Suid-Afrika nie voorheen betrokke was nie.

“Ons kyk voortdurend na kwessies soos transformasie en groei in die hele sektor. Ek moet Agri SA en kommoditeitsgroepe loof wat deurgaans gehelp werk het aan die meesterplan vir die landbou en landbouverwerking. Ek hoop dat ons al in November kan ooreenkom oor wat ons kan doen om die onderskeie subsektore te laat groei,” sê Didiza. 





Verwante Artikels