Hantering van lewendehawe na brande

  • 29 Oktober 2020
  • 225
  •  senwes
  •  
  •  nuus



Die Dierewelsynskoördineringskomitee verduidelik, by wyse van ʼn persverklaring, dat vinnige en gepaste optrede noodsaaklik is om verliese en dierelyding tot ʼn minimum te beperk. Dit word ook gestel dat rampbestuurspanne en vee-eienaars as ʼn span moet saamwerk om die beste uitkomste te behaal.

Vir vee hang die prognose af van die erns van die brandwonde en dit is noodsaaklik om die assessering van die betrokke diere op ʼn sistematiese wyse te doen. Gebaseer op navorsing wat in Australië gedoen is, stel die komitee die volgende groeperings voor:

Diere wat lig of matig geraak is

Dié diere sal maklik en normaal asemhaal, met min of geen hoes of kortasemheid nie. Die diere sal maklik kan loop en normaal kan eet en drink. Hare en wol mag geskroei wees, terwyl die vel liggies geskroei kan wees oor beperkte gedeeltes van die liggaam.

Hierdie oppervlakkige brandwonde kan behandel word en indien diere goeie sorg, skuiling, voer en water kry, is die prognose baie goed.

Matig geaffekteerde gevalle

Diere in hierdie groepering kan kortasem wees, swaar asemhaal en hoes, maar nog steeds daartoe in staat wees om self te loop, te staan en te vreet en drink. Tweedegraadse brandwonde is oor groter gedeeltes sigbaar en onderhuidse swelling kan voorkom. Die vel op die diere se pote mag matig geaffekteer wees, en die hoewe kan moontlik ʼn mate van skade toon.

As dié diere behoorlik behandel en versorg word, is hul prognose goed.

Die besluit om diere meer intensief te behandel moet geneem word met inagneming van die volgende faktore: die getal diere, die beskikbaarheid van gepaste medikasie, die aantal verantwoordelike persone wat beskikbaar is om daaglikse evaluasies en behandelings uit te voer, die kostes verbonde en die waarde van die diere.

Diere wat ernstig geraak is

Hierdie diere sal ernstige asemhalingsprobleme toon en hoes weens die inaseming van rook, hulle sal ook nie self kan loop, vreet of drink nie. Derdegraadse brandwonde sal voorkom.

Aangesien die prognose in bogenoemde gevalle swak is, selfs met besonder goeie behandeling, word genadedood aanbeveel om ʼn einde aan die diere se lyding te bring.

Noodslagting

Slegs lewendehawe wat aan die Vleisveiligheidsregulasies voldoen in terme van die vereistes vir die aanvaarding van diere vir noodslagtings, mag vervoer word. Erg beseerde en onvanpaste diere mag onder geen omstandighede na abattoirs vervoer word nie, aangesien dit tot onnodige lyding en verwerping by die abattoir sal lei.

Die komitee maan vee-eienaars om vooraf met hul naaste abattoir te skakel om te bepaal of lewendehawe gepas is vir slagting.






Verwante Artikels