Basislink |
Wat is Basislink?
Basislink het sy onstaan te danke aan Senwes se besluit om sekere graansoorte vir die hele mark op te koop en nie soos voorheen slegs vir Senwes Graanbemarking nie. In die verlede is alle graan binne die Senwes produksiegebied slegs vir Senwes se Graanbemarkingsafdeling opgekoop. Die afdeling is egter intussen met Tradevantage vervang, wat die bemarking van wit- en geelmielies asook oliesade hanteer.
Hoe werk Basislink?
Kopers moet op MySenwes registreer en vir ‘n kopersnommer aansoek doen ten einde stelseltoegang te verkry. Sodra die registrasieproses afgehandel is, kan hulle op hul eie tyd via die internet premies gaan inlees by die betrokke silo waar hulle graan wil aankoop. Alle gebruikers van Basislink het kan dus sien waarteen ander kopers in die mark bereid is om graan aan te koop sonder om te weet wie die koper is. Dit stel kopers gevolglik in staat om hulle premies óf te verhoog, óf te verlaag na gelang van die vraag na graan by die betrokke silo.
Basislink stel produsente verder in staat om hul graan op ‘n deursigtige platform aan die totale mark te koop aan te bied deur in verbinding te tree met die graanverkryger in sy omgewing. Graanverkrygers het ook toegang tot die stelsel en kan op enige gegewe tyd tussen 09:00 en 12:00, die kliënt se graan namens hom op die stelsel aanbied, wat uiteindelik bemarkingsbesluitneming vergemaklik. Behalwe vir die huidige markpremie, kan die tonnemaat sowel as die leweringsmaand ook deur verkrygers aan gebruikers beskikbaar gestel word.