SENWESlogin | settings | AFR 
News
« Home « News

RSG Nuus Bulletins

4 Februarie 2012 11:00
Die president van die ANC Jeugliga, Julius Malema en vyf ander senior leiers, sal binnekort weet wat hulle lot is wanneer die ANC se dissiplinêre appèlkomitee sy beslissing gaan bekend maak. Volgens ontleders gaan enige besluit 'n reuse impak hê op die party in aan loop tot sy beleids- en verkiesingskonferensies later vanjaar. Die voorsitter van die appèlkomitee, Cyril Ramaphosa, sal die komitee se bevinding lees. Die regstreekse uitsending vanaf Luthuli Huis in Johannesburg kan op SABC twee gevolg word.

4 Februarie 2012 11:00
Die Jeugliga-leiers sal volgens berigte ná afloop van die uitspraak, besoek aflê by die ANC-veteraan, Winnie Madikizela-Mandela. Shivambu sê die Jeugliga sal geen media-konferensie na die uitspraak hou nie, maar sal wag vir leiding van die Jeugliga se strukture.

4 Februarie 2012 11:00
Die Ethekwini-munisipaliteit het 'n ondersoekspan aangestel onder leiding van die stadsbestuurder, Sbu Sithole, om ondersoek in te stel na klagtes wat ontvang is van metro-polisiebeamptes. Honderde lede van die vakbond, Samwu, het gister aan 'n optog na die Durban stadsaal deelgeneem waar 'n griefskrif aan die burgemeester oorhandig is. Hulle maak bewerings van korrupsie en ondoeltreffende tydsbestuur. Werkers eis dat die metrohoof vervang word deur, wat hulle bestempel as, 'n bevoegde kandidaat.

4 Februarie 2012 11:00
Werkers in Limpopo se premierskantoor eis nou ook soos talle ander dat premier Cassel Mathale uit sy pos bedank. Sowat 200 lede van die vakbond Nehawu gaan daagliks 'n plakaatbetoging tydens hulle etensuur hou om hulle ontevredenheid met die premier en sy direkteur-generaal, Rachel Molepo-Modipa, te kenne te gee. 'n Verteenwoordiger van die werkers sê die betogings sal voortgaan totdat die twee hulle poste ontruim het. Vroeër die week het die studente-organisasie, SASCO in Limpopo ook Mathale se bedanking geëis. SASCO sê 'n aantal studente wat regeringsbeurse het, kon nog nie by tersiêre instellings registreer nie, omdat die provinsiale regering versuim het om hulle studiegeld te betaal.

4 Februarie 2012 11:00
'n Vreedsame betoging sal vandag by die Rondebosch Common in Kaapstad gehou word. Verskeie organisasies sal na verwagting daaraan deelneem met die doel om 'n bewustheid te skep oor behuising in die stad. Verlede week is 'n groep agterplaasbewoners in hegtenis geneem toe hulle die gemeenskapsgrond probeer beset het. 'n Woordvoerder van Cosatu, Tony Ehrenreich sê hulle het ten doel om gemeenskappe in Kaapstad te herenig in 'n geïntigreerde nie-rassige gemeenskap. Hy het die DA daarvan beskuldig dat hy steeds rasse-skeiding in die stad toepas.

4 Februarie 2012 11:00
'n Luukse seiljag, wat in 2010 in die nuus was vir die grootste kokaïen-vonds in die land, word vandag op 'n veiling verkoop. Daar is by die Knysna Waterfront beslag gelê op die Toleda, nadat bykans tweeduisend kilogram kokaïne ter waarde van sowat 500-miljoen rand aan boord gevind is. Die ses beskuldigdes se hofsaak het vroeër die week in die Rondgaande hof begin. Die veiling word by die Kaapstadse Waterfront gehou.

4 Februarie 2012 11:00
Die Verenigde Nasies se Veiligheidsraad gaan later vandag stem vir 'n resolusie oor die Arabiese Liga se vredesplan vir Sirië. Dit volg te midde van berigte dat die Siriese magte minstens 217 burgerlikes in die stad Homs gedood het tydens mortieraanvalle. Ingevolge die voorlopige resolusie word daar 'n beroep gedoen op President Bashar al-Assad om die mag te oorhandig aan 'n adjunk wat 'n oorgangsregering sal beding. Die Siriese mensregte-groep sê 138 mense is in mortieraanvalle in die Al-Khalidiya distrik van Homs dood en 79 is in ander dele van die stad asook Damaskus doodgeskiet. Die direkteur van die Siriese Observatory for Human Rights, Rami Abdel Rahman, het die Arabiese Liga se onmiddellike ingryping geëis.

4 Februarie 2012 10:00
Die uitslag van die ANC se dissiplinêre appèlkomitee oor die lot van die president van die ANC Jeugliga, Julius Malema en vyf ander later vandag, gaan 'n reuse impak hê op die party in aan loop tot sy beleids- en verkiesingskonferensies later vanjaar. Malema en vyf senior leiers van die Jeugliga sal omstreeks halftwaalf weet wat hulle toekoms in die ANC is. Die uitslag van hulle appèl teen hul skorsing uit die ANC sal deur die voorsitter van die appèlkomitee, Cyril Ramaphosa aangekondig word. Die verrigtinge by Luthuli Huis in Johannesburg sal regstreeks vanaf elfuur op SABC twee uitgesaai word en die uitspraak word ongeveer half-twaalf verwag.

4 Februarie 2012 08:00
Die Oos-Kaapse polisie het drie mans in hegtenis geneem in verband met die moord op twee polisiebeamptes op Tsomo. 'n Woordvoerder vir die polisie, Ernest Sigobe sê die inhegtenisneming van die drie verdagtes is nooit deur die Valke bekend gemaak nie. Die mans het reeds in die hof verskyn. Volgens Sigobe het die drie mans bande met die taxi-bedryf. Hulle moet weer op 9 Februarie in die hof verskyn.

4 Februarie 2012 08:00
Die Instituut vir Sekerheidstudies sê wanorde in die misdaadintelligensie-eenheid en onervare speurders kan van die redes wees vir die toename in kitsbank-aanvalle. 'n Navorser by die ISS, Johan Burger sê georganiseerde misdaadsindikate buit die swakhede in die polisiestelsel uit. Hy sê 'n groot swakpunt is die onvermoë om bruikbare intelligensie te versamel oor sindikate, vanweë interne probleme. Burger sê daar word te min aandag geskenk daaraan om ervare speurders aan te stel. Daar was in 2010/2011 driehonderd-99 kitsbankaanvalle, teenoor 247 in die voorafgaande jaar. Die provinsies wat die ergste deurloop is Gauteng en KwaZulu-Natal.

4 Februarie 2012 08:00
Die Batebeslagleggingseenheid het beslag gelê op die bates van 'n Rustenburgse fisioterapeut ten bedrae van twee miljoen rand. Die terapeut is skuldig bevind op aanklagte van bedrog by die departement van Arbeid. Die fisioterapeut, Jurry Sehunoe het skuld beken op 28 aanklagte van geldwassery en 15 aanklagte van bedrog by die departement se Vergoedingsfonds. Hy sal aan die einde van Maart in die Handelsmisdaadhof gevonnis word.

4 Februarie 2012 08:00
Siriese magte het volgens berigte minstens 217 burgerlikes doodgeskiet in die stad Homs - in wat as 'n slagting bestempel is. Die Siriese Observatory for Human Rights sê 138 mense is dood in mortieraanvalle in die Al-Khalidiya distrik van Homs. Dié gebied is die afgelope tien maande 'n brandpunt waar protesoptrede teen president Bashar Assad se regering gereeld voorkom. Die organisasie sê 79 mense is in ander dele van die stad dood, asook in die Siriese hoofstad, Damaskus. Die direkteur van die Siriese Observatory for Human Rights, Rami Abdel Rahman, het dit as is 'n slagting bestempel en die Arabiese Liga se onmiddellike ingryping geëis. Die Al-Jazeera en Al-Arabiya televisiestasies het beeldmateriaal van slagoffers wat op die grond lê uitgesaai.

4 Februarie 2012 08:00
Minstens 220 mense is nou dood weens die ysige koue in Oos-Europa waar die temperature die naweek nog verder gaan daal. Die Oekraïne het die ergste deurgeloop met die dodetal wat tot minstens 101 gestyg het. Vier-en-sestig van dié sterftes is mense wat op straat weens die koue omgekom het. In die suidwestelike deel van die Tsjeggiese Republiek is minus 38 grade celsius aangeteken en duisende mense is steeds in bergdorpies in Serwië vasgekeer. In Venesië in Italië het die waterweë begin vries. In die armste Europese Unie-lande sterf mense op straat en op sommige plekke is mense langs die kant van die pad dood gevind en ander is in hulle huise, wat sonder verhitting is, dood. In Brittanje staal mense hulle ook vir sneeu nadat die temperatuur op plekke tot minus 11 grade gedaal het.

2012/02/04 12:32:01 PM

  1. SETTINGS
  2. Market Prices & Reports
  3. Weather Information
  4. MySenwes (login)
  5. Contact Details
  6. Netads (adverts)
  7. Used Equipment
  8. Articles (News)
  9. Share Prices