Tjekboek se dae getel

  • 20 November 2020
  • 255
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dié nuus is luidens ʼn gesamentlike verklaring van die Finansiëledienstesektor se Gedragsowerheid (FSCA), die Reserwebank, die Bankvereniging van Suid-Afrika (Basa) en die Betalingsvereniging van Suid-Afrika (Pasa) aangekondig. Dit beteken dat geen banke vanaf 31 Desember meer tjeks sal aanvaar nie, en daarom word belanghebbendes gevra om nie meer na hierdie datum tjeks te skryf, te onttrek of te aanvaar nie.

Volgens die verklaring is die besluit geneem weens talle probleme ten opsigte van die gebruik van tjeks, veral die dalende gebruik daarvan, tjekbedrog en die verouderde infrastruktuur vir die verwerking van tjeks. Die Reserwebank het voorts by wyse van ʼn kennisgewing gesê dat die koronaviruspandemie die daling in die gebruik van tjeks versnel het omdat verbruikers al hoe meer van digitale en elektroniese betaalwyses gebruik maak.

Beskikbare statistiek toon dat die volume van tjeks vanaf Augustus 2019 tot Augustus 2020 met 59% van 216 570 tot 88 230 afgeneem het. Die waarde van tjeks het in dieselfde tydperk met 82% afgeneem van R5,1 miljard tot R942 miljoen.

* Die meeste banke het reeds aangekondig dat hulle nie meer tjekboeke aan kliënte gaan uitreik nie.






Related Articles