Nog geen einde aan koue toestande nie

  • 28 July 2021
  • 694
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die Suid-Afrikaanse weerkantoor waarsku dat die koue front wat Dinsdag oor die Wees-Kaap inbeweeg het, reën na die winterreënstreek sal bring en dat stormsterk winde oor dele van die provinsie kan voorkom. Twee naderende stelsels sal na verwagting vanaf 5 tot 11 Augustus en weer vanaf 20 tot 25 Augustus skerp temperatuurdalings in die sentrale, suidelike en suidoostelike binneland veroorsaak.

Johan van den Berg, ʼn onafhanklike landbouweerkundige meen dat daar nie verdere koue toestande, soos wat in Julie ervaar is, oor die noordelike dele van die land en veral Limpopo gaan voorkom nie.

Koue- of rypskade

Volgens Van den Berg is daar ʼn kans dat die voorspelde kouetoestande tot koue-of rypskade aan vroeë koring koringaanplantings in die Vrystaat en Noord-Kaap kan lei, terwyl druiwe in die Noord-Kaap en vrugtebome in veral die Langkloof en ander gebiede in die suidoostelike binneland ook skade kan opdoen.

Van den Berg verduidelik dat die normale uittreedatum vir ryp in sekere gebiede in Suid-Afrika diep in September is. In die afgelope paar seisoene, vanaf 2016, is die voorkoms van abnormale laat ryp egter aangeteken en gedurende 2018 het rypskade aan die einde van Oktobermaand ʼn groot deel van die wintergraanoes in die sentrale binneland vernietig. Met hierdie in gedagte is die kanse goed dat daar vanjaar, soos in die afgelope vyf seisoene, weer ʼn groot gevaar vir koue-en rypskade in die lente sal wees.

Die skeer van kleinvee

Die kombinasie van reën, koue en wind skep voorts uiters gevaarlike toestande vir kleinvee, veral as die diere pas geskeer is. Produsente moet wel so na as moontlik aan die winter skeer om te voorkom dat swak plekke in wol voorkom as gevolg van swakker weiding of die stremming wat die winter op wol-of haarvesels kan plaas.

Wat gunstige skeertoestande betref verduidelik Van der Berg dat alhoewel lae temperature nog in Augustus gaan voorkom, dit nie lyk of daar noemenswaardige reën en verdere sneeu gaan voorkom in die sentrale, suidelike en suidoostelike dele van die land nie. Daar is wel ʼn kans op ligte reën rondom 8 Augustus oor die suidoostelike binneland. Met dié in gedagte meen Van den Berg dat toestande gunstig behoort te wees om vanaf die einde van Juliemaand af te begin skeer. 






Related Articles