Local is lekker en nodig

  • 20 October 2020
  • 1497
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die voorgestelde ekonomiese herstelplan, wat onlangs in die parlement voorgelê is, het die volgende hoof doelwitte, naamlik: werkskepping, industrialisering, strukturele ekonomiese hervorming om binnelandse en buitelandse beleggings te lok, die bevegting van misdaad en korrupsie, en die verbetering van die staat se regeringsvermoë in alle regeringsvlakke. ʼn Groot Koop Plaaslik-veldtog word ook in die vooruitsig gestel.

Koop en ondersteun plaaslike markte

Volgens die President kan ʼn intensiewe en grootskaalse Koop Plaaslik-veldtog tot 3,2 persentasiepunte tot die jaarlikse BBP voeg.

Vervaardiging verteenwoordig die vierde grootste fokuspunt van die herstelplan, en stel dit dat indien Suid-Afrika net 2% van die goedere kan verskaf wat die res van die kontinent elke jaar invoer, dit 1,2 persentasiepunte tot die jaarlikse ekonomiese groei kan voeg. Suid-Afrika voer jaarliks goedere ter waarde van R1,1 biljoen in en volgens die President kan ʼn verdere 2 persentasiepunte tot die jaarlikse ekonomiese groei gevoeg word indien die land 10% van hierdie goedere plaaslik sou vervaardig.

Indien Suid-Afrika daarin kan slaag om teen 2023 die teiken van R1,2 biljoen in nuwe beleggings te verwesenlik, sal 2,5% tot die jaarlikse BBP gevoeg kan word.

Ten einde groei in die plaaslike vervaardigingsektor te help stimuleer, het die President gesê dat die verkryging van plaaslike verbruikers- en nywerheidsprodukte ʼn prioriteit vir almal moet wees. Dit sluit goedere in soos benodig vir landbouverwerking, gesondheidsorg, konstruksie, vervoer en industriële gebruik.

Ter afsluiting het die President Suid-Afrikaners aangemoedig om, veral oor Kersfees, plaaslik te koop en binne die landsgrense vakansie te hou. Laasgenoemde sal steun aan die plaaslike toerismebedryf verseker.






Related Articles