Kondig noodtoestand af vra Agri SA

  • 13 July 2021
  • 1330
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



So vra Christo van der Rheede, uitvoerende hoof van Agri SA.

Volgens Van der Rheede bedreig die plundering van winkels, die steniging van motors, die blokkering van paaie, die brand van vragmotors en oeste, asook veediefstal die land se voedselsekerheid. “Die risiko bestaan dat mense nie kos sal kan koop of toegang tot kos sal hê nie, wat sal aanleiding gee tot hongersnood en verhongering op ʼn nasionale skaal. Dié toestande sal gevolglik verdere onrus en chaos aanhits,” verduidelik Van der Rheede.

Van der Rheede sê dit is duidelik dat misdadigers geen respek vir wet en orde het nie en daarom sal hulle voortgaan om te plunder, vernietig en steel tot daar niks oor is nie. Hy voeg by dat die Suid-Afrikaanse Grondwet die staat verplig om sy burgers teen misdadigheid van hierdie aard te beskerm.

Dit is Van der Rheede se mening dat veiligheidspersoneel gestuur moet word na alle gebiede wat deur die protesoptredes geraak word en daar moet verseker word dat logistieke infrastruktuur, soos paaie, hawens en lughawens, steeds kan funksioneer ter wille van die aflewering van kos.

“Dit is duidelik dat die gejou om die ekonomie tot stilstand te bring en met burgerlike ongehoorsaamheid en gewelddadigheid voort te gaan ʼn ernstige bedreiging vir alle wetsgehoorsame Suid-Afrikaners is wat op wet en orde staatmaak om die ekonomie te groei,” sê Van der Rheede.






Related Articles