Vleilanddag word internasionaal gevier

  • 01 February 2021
  • 2200
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Vleilande word in Suid-Afrika as die mees bedreigde ekostelsel beskou, en om dié rede is dit belangrik om vleilandhabitatte te beskerm teen erosie, indringerplante, besoedeling, grootskaalse oorstromings en onvanpaste brandpraktyke.

Vanjaar se tema is: vleilande en water.

Die Ramsar-konvensie

Die Ramsar-konvensie, oftewel die internasionale konvensie vir die beskerming van vleilande, is in 1971 in Ramsar, ʼn dorp in Iran, onderteken.

Volgens dié konvensie word vleilande bestempel as “gebiede met vleie, moerasgrond, veengrond of water, hetsy natuurlik of kunsmatig, permanent of tydelik, met staande of lopende water, brak of sout, insluitende gebiede met seewater wat met laagwater nie dieper as ses meter is nie.”

Die doelstelling van die verdrag is om vleiland verliese te verminder, die verantwoordelike gebruik van vleilande aan te moedig, beskermde vleilande se beskerming te verhoog en om belangstellendes op te lei en aan te moedig om die verantwoordelikhede volgens die verslag na te kom.

Altesaam 169 lande het reeds hul steun tot dié bewaringsaksie verleen. Daar is tans meer as 2 200 vleilande wêreldwyd wat onder dié konvensie ressorteer. In Suid-Afrika val meer as 20 gebiede onder die beskerming van die konvensie. Hierdie gebiede sluit onder meer in: Baberspan, Blesbokspruit, die Bot-Kleinmondgetyrivier, De Hoopvlei, De Mond, Drakensbergpark, Kosibaai, Langebaan, Ndumo-wildtuin, Nylsvlei-natuurtuin, Oranjeriviermonding, Seekooivlei-natuurtuin, Sibhayi-meer, St. Lucia-sisteem, Seeskilpad-Strande, Verlorenvallei-natuurtuin, Verlorenvlei, Valsbaaivleilandpark en die Wildernis-mere.

Interessante feite

  • Sowat 3% van die aarde se oppervlak word deur vleilande bedek.
  • Suid-Afrika het in 1975 deel geword van die Ramsar-konvensie en was die vyfde land om die verdrag te onderteken.
  • Die Ramsar-konvensie is die enigste internasionale verdrag wat dit ten doel het om habitat eerder as lewende spesies te bewaar.
  • Vleilande is van die mees produktiewe ekostelsels in die wêreld omdat dit ʼn lewensbron is wat water voorsien, water filtreer, as ruspunt dien vir migrerende voëls, koolstof opvang en grond-erosie voorkom.





Related Articles