Weerkundige maan produsente om gou te plant

  • 04 November 2020
  • 1452
  •  senwes
  •  
  •  nuus



In ʼn onlangse onderhoud met Landbouweekblad, raai Johan somergraanboere aan om so gou as moontlik te begin plant omdat daar heelwat meer reën later in November te wagte kan wees. Dit kan, volgens Johan, die plantproses bemoeilik.

Volgens Johan sal die derde week in November die beste tyd wees vir lusernboere in die Noord-Kaap en die westelike dele van die Vrystaat om goeie gehalte hooi te sny en te baal. Die korttermynvoorspellings moet egter dopgehou word vir moontlike veranderings in die weer.

Vooruitsigte vir reën

Op die korttermyn is die voorspelling vir 20mm of meer se opvolgreën vanaf 4 tot 6 November baie gunstig oor die grootste gedeeltes van Noordwes, die Vrystaat, Mpumalanga, KwaZulu-Natal, Gauteng en die noordelike dele van die Oos-Kaap. Ligter neerslae is ook moontlik oor die Noord-Kaap, Limpopo, die Oos-Kaap en die binneland van die Wes-Kaap.

In terme van ʼn langertermynvoorspelling, meen Johan dat die oostelike dele van die land, wat KwaZulu-Natal, Mpumalanga, die Oos-Vrystaat, die Oos-Kaap en Gauteng insluit, in November en Desember heelwat meer reën as in die lente kan verwag. Die meer westelike dele van die land en Namibië het ʼn goeie kans op enkele buie later in November, terwyl die vooruitsigte baie goed is vir neerslae in Desember en Januarie. 





Related Articles