Wagyu-vleissnit behaal top internasionale gradering

  • 21 December 2020
  • 1380
  •  
  •  
  •  nuus



Die riboog-snit van ʼn karkas met Suid-Afrikaanse oorsprong het ʼn ongelooflike 15 punte op die internasionale graderingskaal behaal, en kenners reken dat soortgelyke snitte jou tot R16 000 per kilogram uit die sak kan jaag. Die internasionale Wagyu-kenner, Professor Keigo Kuchida van die Obihiro Universiteit in Japan, het die snit as “uitnemend” beskryf en gevolglik ook die gradering bevestig.

In Japan, waar dié beesras sy ontstaan gehad het, strek die graderingsskaal tot by 12 terwyl die Australiese skaal tot by nege strek. Australië, is een van die wêreld se grootste Wagyu-vleisproduseerders.

Volgens dr Michael Bradfield, hoof uitvoerende beampte van Wagyu Suid-Afrika, was die Suid-Afrikaanse snit afkomstig van ʼn Wagyu en Angus kruisras. Hy verduidelik dat vleis wat aan ʼn kruisras behoort, as Wagyu gesertifiseer kan word na aanleiding van ʼn DNA-toets, en die nakoming van verskeie regulasies. Hierdie regulasies sluit onder meer in dat die vleis hormoonvry moet wees en dat dit ʼn marmeringsyfer van meer as drie moet hê. ʼn Biefstuk met ʼn marmering van drie word plaaslik vir tussen R800 en R1 000 per kilogram verkoop.

Tegnologie help met graderingsproses

Die Wagyu-bedryf maak lank reeds van tegnologie gebruik om keurgraad-vleissnitte te evalueer, te help met die redigering van gene om gewenste eienskappe by dié beesras te verbeter, en vir die inplanting van stamselle om meer aanpasbare kalwers te teel.

Die objektiewe gradering van karkasse speel ʼn belangrike rol in die genetiese verbetering van vleisbeeste en kommersiële vleisverhandeling en daarom word gevorderde kameras gebruik om eienskappe te meet wat nie objektief met die blote oog uitgevoer kan word nie.

Verskeie Wagyu-verenigings in Suid-Afrika en Australië gebruik reeds vanaf 2019 die MIJ-30-kamera om karkasse af te neem en sodoende die marmering te meet.

* Die bees is deur Brian Angus van Woodview Wagyu in die Vrystaat geteel, en het aan Morgan Beef in Mpumalanga behoort.






Related Articles