Vuurwapenwetgewing – sluitingsdatum vir kommentaar om die draai

  • 15 June 2021
  • 1847
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Fred Camphor, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Jagters-en Wildbewaringsvereniging vra die publiek om erns te maak met hul kommentaar in hierdie verband. Camphor meen verskeie van dié voorgestelde wysigings is onhaalbaar, onprakties en nadelig vir jag-en sportskiet. Dit is benewens die voorstel dat om ʼn vuurwapen vir selfverdediging te besit nie meer ʼn wettige rede vir die besit van ʼn vuurwapen moet wees nie.

Volgens Camphor het die vereniging in 2009 suksesvol wysigings aan dié wet in die hof teengestaan toe daar teenstrydigheid was oor die geldigheid van ou lisensies. Die hof het toe beslis dat die ou groen lisensies, soos uitgereik ingevolge die vorige vuurwapenwet, geldig bly. Hierdie uitspraak is vandag steeds van toepassing.

“Die voorgestelde wysigings is selfs meer omvattend as toe, en noodsaak ʼn gesamentlike poging deur alle vuurwapeneienaars om sinvolle aksie teen die wysigings te neem,” sê Camphor en verduidelik dat in belang van elke wapeneienaar is om hul stem in die verband te laat hoor. Laasgenoemde is volgens hom veral belangrik in terme van wysigings wat daarop gemik is om mense se reg om vuurwapens te besit te beperk.

Dit is volgens Camphor ook baie belangrik dat die proses rondom die wettige aspekte van die kwessie en wat die versoek om kommentaar behels te verstaan. Hy verduidelik dat die versoek om kommentaar gerig word om te bepaal wat die moontlike impak van wysigings aan die wetgewing sal wees, asook om die moontlike teenkanting daarop uit te lig.

Die vereniging is veral bekommerd oor die volgende voorgestelde wysigings:

  • Om die Wet op die Beheer van Vuurwapens te wysig van ʼn bemagtigende wetgewing na ontmagtigende wetgewing;
  • Die verwydering van die reg om ʼn vuurwapen vir selfverdediging te besit;
  • Beperkinge op die aantal vuurwapens en hoeveelheid ammunisie wat toegewyde deelnemers aan jag-en sportskiet mag besit;
  • Die uitbreiding en herdefiniëring van ballistiese monsternemingspraktyke wat onhaalbaar en onprakties sal wees;
  • Veranderinge aan die bevoegdheidsvoldoening vir vuurwapeneienaars; en
  • Beperkinge op die herlaai van ammunisie deur vuurwapeneienaars vir hul eie gebruik.

Besoek www.policesecretariat.gov.za om die voorgestelde wetgewing te besigtig. Om kommentaar te lewer, stuur ʼn e-pos na [email protected].






Related Articles