VS-boere maak self plan met padonderhoud

  • 07 July 2021
  • 551
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens ʼn onlangse opname deur Vrystaat Landbou (VL) het boere in dié provinsie reeds meer as R6 miljoen bestee aan padonderhoudswerk. Francois Wilken, president van VL, sê dat die algemene agteruitgang van die provinsie se padinfrastruktuur nie net ʼn direkte impak op landbouaktiwiteite het nie, maar ook lewens in gevaar stel.

Wilken meen die gebrekkige regeringsvermoë en traagheid om paaie te herstel noop die landbousektor toenemend om hand in eie boesem te steek om uitdagings aan te spreek. “Die R6 miljoen-syfer is die werklike koste wat reeds aangegaan is en baie van dié instandhoudingswerk word waarskynlik nie eens aan die owerhede gerapporteer nie,” sê Wilke. Die uitgawes is nog hoër indien geleentheidskoste, produksietydsverliese, slytasie op toerusting en voertuigherstelwerk bygereken word.

Volgens VL is die situasie tans die ergste in die Noordoos-Vrystaat, waar daar in die Thabo Mofutsanyana-distrik ʼn groep van vyf boere is wat jaarliks meer as R1 miljoen moet bestee net om paaie gangbaar te hou. “As hierdie landbouers dit nie doen nie, is dit onmoontlik vir hulle om hul graan, tuinbou-en veeprodukte aan die mark te lewer,” verduidelik Wilke en hy voeg by dat briewe en vertoë al herhaaldelik, en onsuksesvol, aan LUR’e en ministers gerig is om die probleme aan te spreek.

VL se regspan ondersoek tans moontlike regsroetes ten einde die landbougemeenskap se regte te beskerm en dienslewering te verseker.






Related Articles