Vlak 4 van die inperkingsregulasies bly van krag

  • 12 July 2021
  • 679
  •  
  •  
  •  nuus



Met dié woorde het president Cyril Ramaphosa gister (Sondag, 11 Julie 2021) aangekondig dat vlak 4 van die nasionale inperkingsregulasies vir minstens die volgende twee weke van krag sal bly. Die volgende regulasies en vergunnings is aangekondig:

  • Restaurante en gimnasiums mag oopmaak, solank hulle aan streng gesondheidsmaatreëls voldoen en nie meer as 50% vol is nie.
  • Veilings mag plaasvind.
  • Skole sal op 26 Julie oopmaak, en nie op 19 Julie soos aanvanklik vasgestel is nie.
  • Die koop en verkoop van alkohol word steeds verbied.
  • Alle byeenkomste word steeds verbied en ʼn aandklokreël geld tussen 21:00 en 04:00.

Volgens die president toon die beskikbare statistiek daarop dat Gauteng steeds die meeste daaglikse infeksies toon, maar hy het bygevoeg dat ander provinsies se getalle nou vinnig en drasties styg.

Meer oor die nasionale inentingsprogram

In sy toespraak het president Ramaphosa vermeld dat meer as 4,2 miljoen Suid-Afrikaners tot dusver die Covid-19-entstof ontvang het. Volgens hom het die koers waarteen Suid-Afrikaners ingeënt word, die afgelope tyd meer as verdubbel en tans word gemiddeld 190 000 op ʼn weeksdag ingeënt.

Mense tussen die ouderdomme van 35 en 49 jaar oud kan vanaf Donderdag, 15 Julie, vir die entstof registreer en die president is hoopvol dat die land vanaf 1 Augustus sy doelwit sal bereik om 300 000 mense per dag in te ent.

In terme van die beskikbaarheid van entstowwe het Ramaphosa gesê dat die Afrika-unie ʼn ooreenkoms met die enstofvervaardiger Johnson & Johnson onderteken het, wat sal verseker dat 17 miljard dosisse van dié entstof in Julie aan Afrika-lande beskikbaar gestel sal word. Dit beteken dat Suid-Afrika binnekort genoeg entstowwe sal hê om die meerderheid van Suid-Afrikaners in te ent.

* Senwes moedig al sy belangegroepe, insluitende personeel, aan om vir die entstof te registreer ten einde besigheidsvolhoubaarheid te verseker en ʼn einde aan lewensverlies as gevolg van die pandemie te bring. Persone tussen 50 en 60 jaar kan tans registreer vir die entstofprogram, terwyl persone tussen 35 en 49 vanaf 15 Julie vir die program kan registreer.






Related Articles