Trekkerverkope van 593 eenhede is in November 2020 aangeteken, wat 39% meer is as die 427 eenhede wat verlede jaar November verkoop is. Vir die jaar tot dusver is trekkerverkope byna 8% meer as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
In November is vier stropers verkoop, een meer as verlede jaar. Vir die jaar tot dusver is stroperverkope nou byna 26% meer as vir die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.
Dié volgehoue tendens in hoër verkope weerspieël die positiewe sentiment in die mark terwyl goeie oeste in die meeste van die somer- en wintergewasgebiede ingebring is. Die weervooruitsigte vir die komende somerreënvalgebiede lyk ook bemoedigend.
Volgens die Suid-Afrikaanse Landboumasjienerie-assosiasie lyk die algemene voorspellings vir die 2020-kalenderjaar baie goed, en verkope sal na alle waarskynlikheid byna 10% meer kan wees as in 2019.