Stygende kunsmispryse beteken straks swakker oeste en duurder kos

  • 20 October 2021
  • 432
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens Ikageng Maluleke, ʼn ekonoom verbonde aan Graan SA, word Suid-Afrika as ʼn invoerder van kunsmatige voedingstowwe deur die globale prysstygings geraak. Hy meen dat die impak van die stygende produksiekoste van kunsmis op die langtermyn (2022) ʼn impak op oeste én verbruikerskoste kan hê.

Voedselpryse sal styg

Op sy beurt het prof Johan Willemse van Agrimark reeds aan die einde van Augustus gewaarsku dat kunsmispryse, wat die afgelope jaar reeds met meer as 40% gestyg het, as een van die grootste kostedrywers van voedselpryse na vore sal tree. Hierdie stelling stem ooreen met die uitlating van die Verenigde Nasies dat die maatstaf vir internasionale voedselpryse toon dat verbruikers nou die meeste nog aan kosinkopies spandeer in die afgelope dekade. Die duurder kunsmispryse sal voorts kospryse nog verder laat styg.

Impak op grondverwerking

Die pryse van sleutelvoedingstowwe wat in kunsmis gebruik word, naamlik potas, fosfaat en stikstof is op die oomblik die hoogste in tien jaar.

Ureum, wat van stikstof gemaak word, is voorts ʼn gewilde kunsmisproduk onder boere, en die prys daarvan neem steeds toe terwyl DAP, ʼn fosfaatkunsmis wat algemeen in gebruik is, tans die duurste kunsmisproduk op die mark is.

Voeg hierby die logistieke uitdagings rondom die vervoer van kunsmis, ʼn tekort aan vragmotors en arbeid én stygende brandstofpryse en dit word baie duidelik dat produsente ʼn werklike uitdaging in die gesig staar. Verskeie groot kunsmisaanlegte moes ook sedert die aanvang van die Covid-19-pandemie sluit of hul vervaardigingsuitsette inperk. 





Related Articles