SA wildbedryf -dekade van groei en bloei

  • 01 October 2020
  • 1203
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens dr Cloete het die stabilisering van veral die teel en handel van die lewendehawe-segment vir groot hoogtepunte gesorg. Areas van impak sluit onder meer in farmaseutiese ontwikkelinge (dieregesondheid), vervoer, voeding, veilingsplatforms en bemarking. Hy meen voorts dat die bekendstelling van wildversekering ʼn betekenisvolle bydra gelewer het deurdat dit wildsboere en beleggers toelaat om hul risiko’s te verskans terwyl dit ook beleggingsbesluite vergemaklik.

Suid-Afrika is, volgens dr Cloete, besig om met ʼn hernieude dryf die jagbedryf, veral in terme van die internasionale jagmark, weer op dreef te kry na ʼn tydperk (2010 tot 2015) waartydens die fokus grotendeels op die teling van wild geval het. Gedurende hierdie tydperk het die land ʼn aansienlike deel van sy markaandeel teenoor lande soos Namibië verloor, gedeeltelik as gevolg van negatiewe telingspraktyke.

Wildveilings het, volgens dr Cloete, merkwaardige groei en ontwikkeling ervaar oor die afgelope tien jaar. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan ʼn konstante toename in pryse en die winsgewendheid van die meeste wildspesies. Hy verduidelik dat veilings voorts nie net ʼn aantreklike alternatief aan beleggers bied nie, maar ook as alternatiewe bemarkingsplatform gebruik word. Koop-en-verkoop tendense toon dat die prys vir groter wildsoorte (soos blouwildebees, gemsbok, koedoes en elande) bestendig vertoon, terwyl kleiner wildsoorte (soos springbokke, rooibokke en blesbokke) besig is om terug te sak na vlakke wat in 2005 behaal is. In hierdie verband speel kleurvariant ook ʼn rol omdat die aanbod voortdurend toeneem en pryse verlangsaam.

Die koronaviruspandemie het ʼn groot impak op die bedryf gehad, en as gevolg van onder meer volgehoue reisbeperkings en gepaardgaande veiligheidsmaatreëls sal die pandemie voortgaan om ʼn negatiewe uitwerking te hê. Die suksesvolle bestuur en ontwikkeling van stil- en aanlynveilings sorg egter vir  ʼn veer in die hoed van die bedryf en volgens dr Cloete, verlig dié inisiatiewe nie net die druk op die veilingkalender nie, maar dit vergroot die reikafstand van veilingshuise terwyl die potensiële koper ook voordeel trek. Die koper kan in die gemak van sy eie huis aktief deelneem aan meer as een veiling op dieselfde dag, iets wat voorheen nie haalbaar sou wees nie.

Eksterne faktore wat ʼn impak op die bedryf het, sluit in die veranderende ekonomiese- en politieke landskap, beleid onsekerheid, dienslewering, en aspekte soos grondhervorming waaroor daar nog nie klarigheid is nie.





Related Articles