SA en Omikron-variant | Dit is wat jy moet weet

  • 29 November 2021
  • 773
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Hier, in ʼn neutedop, is die hoogtepunte van Ramaphosa se toespraak:

  • Die vlak van inperking bly onveranderd vir nou

    Hoewel infeksiegetalle besig is om te styg, is die land nog nie midde ʼn vierde vlaag nie.

    ʼn Skerp styging in die infeksiegetalle is die afgelope week waargeneem en die persentasie positiewe Covid-19-toetse het van 2% tot meer as 9% gestyg. Volgens die president is die verwagting dat die land binne die bestek van die volgende twee weke, indien nie gouer nie, ʼn vierde vlaag sal ingaan. In die lig hiervan het hy gewaarsku dat die land se vlak 1-status binne weke heroorweeg kan word.

  • Die nasionale ramptoestand bly in plek

    Hoewel die nasionale ramptoestand in plek bly, het Ramaphosa gesê daar word reeds oorweeg of dié toestand nie opgehef moet word nie. Hierdie oorweging word gedryf deur die feit dat dit duidelik is dat die wêreld sal moet leer om saam met die virus, wat sal aanhou muteer, saam te leef.

    Hy het dit beklemtoon dat Suid-Afrikaners sal moet begin om verantwoordelikheid te aanvaar vir hul eie gesondheid, maar het terselfdertyd die versekering gegee dat die land se gesondheidstelsel gereed is vir die vierde vlaag van infeksies.

  • Die moontlikheid om inentings verpligtend te maak

    Volgens die president bly inenting die magtigste gereedskap teen Covid-19, en dié stelling word ondersteun deur bewyse dat inentings ernstige siekte, hospitalisering en sterte weens die virus drasties verminder.

    Benewens verpleegkundiges en mense met swak immuniteit wat reeds opvolginentings kan kry, word opvolginentings ook in fases vir die res van die bevolking oorweeg, beginnende met ouer mense.

    Intussen is ʼn taakspan aangestel om verpligte inenting vir spesifieke plekke en gebeurtenisse te ondersoek en in te stel. Hierdie omstrede stap sal verseker dat die land minder kwesbaar sal wees vir vlaag op vlaag infeksies.

    Verpligte inentings is reeds praktyk in verskeie lande.

  • Die dra van maskers bly verpligtend

    Volgens die president bestaan voldoende bewyse dat die dra van ʼn masker, wat die neus en mond bedek, help om die verspreiding van die virus te bekamp.

    Dit bly daarom ʼn misdaad om nie ʼn masker te dra wanneer jy die huis verlaat nie.

  • Die waarde van vars lug

    Die president het dit gestel dat vars lug die “goedkoopste en volopste” wapen teen die virus is, en hy het mense aangemoedig om eerder in die buitelug byeen te kom.

    As mense hulself binnenshuis of in voertuie bevind, moet die vensters oop wees sodat lug vryelik kan vloei.

  • Groot byeenkomste nie verbied, maar word ontmoedig

    Hoewel geen verbod ingestel is op byeenkomste nie, en dit ook nie verklein is nie, het Ramaphosa gevra dat vergaderings en konferensies eerder virtueel aangebied moet word.

    Hy het voorts gemaan dat jaareindgesellighede, post-matriekpartytjies en ander vieringe eerder uit-of afgestel moet word.

  • Aandklokreël bly onveranderd

    Die huidige aanklokreël bly van krag en almal moet tussen 0:00 en 04:00 tuis wees. Uitsonderings is slegs van krag vir mediese of ander noodgevalle of vir noodsaaklike werkers wat oor die nodige papierwerk beskik.

    Restaurante, kuierplekke en nie-noodsaaklike ondernemings moet steeds om 23:00 hul deure sluit sodat werknemers en klante betyds tuis kan kom.

  • Drankverkope

    Geen verbod is op drankverkope ingestel nie, en drankwinkels mag steeds sake doen in pas met die voorwaardes van hul dranklisensie.

    Drankverkope is oor naweke en op openbare vakansiedae toelaatbaar en restaurante en kroeë mag drank tot en met 23:00 bedien.

  • Perk op byeenkomste bly onveranderd

Die perk op byeenkomste bly onveranderd met 750 mense wat binnenshuis en 2 000 in die opelug aanvaarbaar is.

Die voorwaarde bly van krag dat binnenshuise byeenkomste nie 50% van die kapasiteit van ʼn perseel mag oorskry nie, sus waar ʼn perseel nie 750 mense met sosiale distansiëring kan akkommodeer nie, word die getal verminder tot 50% van die hoeveelheid mense wat ʼn perseel voor Covid-19 sou akkommodeer.

In die geval van begrafnisse, bly die perk 100 mense. 






Related Articles