Prioritiseer landbousektor vir toediening van entstof

  • 09 July 2021
  • 556
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Agri SA het reeds ʼn beroep op die regering gedoen om dié pleidooi te oorweeg.

Volgens Christo van der Rheede, uitvoerende direkteur van Agri SA, moet die prioritisering van die landbousektor juis nou te midde van die derde vlaag Covid-19-infeksies plaasvind, omdat die infeksiekoers teen ʼn kommerwekkende tempo toeneem.

Die sektor se status as voedselvoorsiener is volgens Van der Rheede reeds ʼn genoegsame rede is om die sektor te prioritiseer. Die feit dat produsente en plaaswerkers hoofsaaklik in landelike gebiede woon, en wat hulle meer kwesbaar laat vir die derde vlaag Covid-19-infeksies is, moet ook nie buite rekening gelaat word nie.

Aandag moet volgens Van der Rheede ook gegee word aan die gebrek aan en swak toestand van infrastruktuur wat die uitrol van die entstof in landelike gebiede kniehalter.

“Agri SA is bekommerd dat, indien noodsaaklike werkers soos produsente en plaaswerkers nie deur die regering geprioritiseer word nie, dit ʼn nadelige uitwerking kan hê op die uitsonderlike bydrae van die sektor in terme van werkskepping, buitelandse valuta-verdienste en voedselsekerheid vir die land as geheel,” meen Andrea Campher, risiko-en rampbestuurder van Agri SA.

Ander redes wat tot die aandrang om prioritisering bydra sluit in:

  • Die sektor is tans midde-in ʼn kritieke landboutydperk en het volledige werksmag op plase nodig;
  • Plaaswerkers wat nie op plase woon nie, kan nie hul werk van hul huise af doen nie. Die vervoer van dié werkers, wat dikwels deur ouer produsente gedoen word, stel dié produsente én ander plaaswerkers bloot aan die virus;
  • Die aard van plaaswerk laat dit nie altyd toe om ten alle tye gesonde afstand te handhaaf nie. Dit sluit veral intensiewe bedrywe soos pluimvee, varkboerdery, tuinbou en voerkrale in.
* Senwes moedig al sy belangegroepe, insluitende personeel, aan om vir die entstof te registreer ten einde besigheidsvolhoubaarheid te verseker en ʼn einde aan lewensverlies as gevolg van die pandemie te verhoed. Persone ouer as 60 kan tans registreer vir die entstofprogram, terwyl persone tussen 35 en 49 vanaf 15 Julie vir die program kan registreer.





Related Articles