Plan vir pluimveebedryf lewer positiewe resultate

  • 07 October 2020
  • 1979
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Volgens statistiek wat deur die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) vrygestel is, het plaaslike hoenderprodusente tot dusver vanjaar meer hoender geproduseer terwyl die invoer van hoender in die middel van die jaar drasties minder was as dieselfde tydperk verlede jaar.

Dié positiewe tendense word deels aan die uitkomste van die meesterplan toegeskryf, tesame met groter plaaslike produksie en die verbeterde beheer van invoere. Die verwesenliking van hierdie uitkomste asook die bevordering van die uitvoermark vir Suid-Afrikaanse pluimvee staan sentraal tot die doelstelling van die plan.

Die Departement van Handel, Nywerheid en Mededinging het voorts aangedui dat, gegrond op die statistiek van die SAPV, plaaslike produsente in die eerste agt maande van vanjaar, ondanks die koronaviruspandemie, ongeveer 5% meer hoendervleis geproduseer het as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Volgens die Departement het die regering, sedert die ondertekening van die meesterplan, hoër invoertariewe op sekere snitte ingestel asook  ʼn ondersoek na die tariefstruktuur geloods ten einde ʼn meer doeltreffende handelsomgewing vir pluimvee te verseker.

In terme van uitvoere poog die meesterplan om die plaaslike vraag na hoendervleis te verhoog, terwyl dit aandag gee aan die uitvoer van plaaslike geproduseerde gekookte en rou hoenderprodukte. Die bedryf het onder meer Saoedi-Arabië, die Verenigde Arabiese Emirate en Katar as voorranglande vir uitvoer uitgewys terwyl markte binne die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap, die Afrika-vryehandelsgebied en die Midde-Ooste verder ontwikkel sal word.

Vordering is ook gemaak ten opsigte van die onderneming deur produsente, as deel van die meesterplan, om R1,7 miljard aan uitbreiding en verbetering van produksiekapasiteit te bestee. Van die beleggingsprojekte is reeds voltooi, insluitend die uitbreiding van broeihuise en verwerkingsaanlegte. Meer as 400 werkgeleenthede is voorts geskep terwyl ʼn finansieringsmodel vir kontrakboere ontwikkel is om te help om produsente se sakehaalbaarheid en winsgewendheid te beoordeel.





Related Articles