Oesskatting opwaarts aangepas

  • 31 May 2021
  • 652
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Na afleiding van dié aanpassing word die verwagte kommersiële mielie-oes nou op 16,2 miljoen ton gereken, wat 0,5% of 85 000 ton meer is as die vorige skatting. Die skatting vir sojabone is met 6,9%, of 125 000 ton verhoog na 1,9 miljoen ton terwyl die skatting vir sonneblom met 2,9% verhoog is na 716 000 ton.

Jannie de Villiers, uitvoerende direkteur van Graan SA, beskryf die jongste oesskatting as baie goeie nuus: “Ons graanpryse is basies op uitvoerpariteit. Groter oeste soos wat nou voorspel word, kan nie sommer pryse verder afdruk nie, en daarom beteken meer tonne ook meer geld vir ons produsente.”

Mielies

Volgens De Villiers verloop mielie-uitvoere baie goed en sowat 62 000 ton is onlangs na Suid-Korea en Viëtnam uitgevoer. Op die keper beskou sal daar vanjaar by die 3 miljoen ton mielies vir uitvoer beskikbaar wees, gegewe die feit dat die geskatte mielie-oes 6% groter as verlede jaar se oes sal wees.

Die oppervlakte onder mielies word op 2,8 miljoen hektaar geraam, met ʼn verwagte opbrengs van 5,87 ton per hektaar. Die drie belangrikste mielieproduserende gebiede, die Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes, sal na verwagting 84% van die 2021-oes oplewer.

As dit kom by witmielies staan die geraamde oppervlakskatting op 1,7 miljoen hektaar en in die geval van geelmielies word dit op 1 miljoen hektaar geskat. Die produkskatting van witmielies is 9 miljoen ton met ʼn opbrengs van 5,3 ton per hektaar. In die geval van geelmielies is die produksieskatting 7,2 miljoen ton met ʼn geskatte opbrengs van 6,8 ton per hektaar.

Sojabone, sonneblom, grondbone en sorghum

Die NOK stel die geskatte opbrengs vir sojabone op 2,3 ton per hektaar en die oppervlakte beplant word op 827 000 hektaar geraam.

Die geskatte opbrengs vir sonneblomsaad word op 1,5 ton per hektaar geraam met ʼn oppervlakskatting van 478 000 hektaar. Die verwagte grondbone-oes is onveranderd gelaat op 58 000 ton, met ʼn oppervlakskatting van 39 000 hektaar terwyl die verwagte opbrengs op 1,5 ton per hektaar gereken word.

In terme van sorghum word die verwagte opbrengs op 1,5 ton per hektaar geraam, met ʼn produksieskatting van 195 000 ton.






Related Articles