Oesskatting dui op kleiner katoenoes

  • 07 June 2021
  • 914
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die plaaslike katoenoes word op 80 000 bale vesel gestel teenoor die 134 000 bale wat in die vorige seisoen geoes is. Dié daling word hoofsaaklik toegeskryf aan die hoër pryse vir graan en oliesade en gevolglik is daar net meer as 16 700 hektaar katoen aangeplant teenoor die 27 600 hektaar van die vorige seisoen.

Hennie Bruwer, uitvoerende hoof van Katoen SA is egter optimisties oor die nuwe seisoen. Hy verduidelik dat pryse nou bykans 40% hoër is as ʼn jaar gelede en dat wêreldverbruik tans produksievlakke oorskry. “Hierdie geleenthede sal nie net produksie stimuleer nie, maar ek glo ook dat pryse bo die langtermyngemiddeld van 70 Amerikaanse sent per pond sal bly. Ek glo daarom nie dat ons hoef terug te staan vir ander gewasse soos mielies en sojabone nie,” sê Bruwer.

Internasionale markte

Volgens die internasionale advieskomitee vir katoen (ICAC) word die wêreldproduksie vir die 2020 –’21-seisoen op 24,1 miljoen ton geraam. Dié produksieskatting is 8% laer in vergeleke met die vorige seisoen.

Die advieskomitee meen verder dat die wêreldverbruik na verwagting met 8% sal toeneem namate die vervaardigingsbedryf herstel. Hierdie verbruik word op die oomblik op 24,5 miljoen ton geraam, waarvan 8,1 miljoen ton (31%) in Sjina verbruik word.

* Die oesproses in Suid-Afrika het in Mei ʼn aanvang geneem, maar sal eers teen Junie en Julle in alle erns plaasvind.






Related Articles