Nuwe tuiste vir rekordprys SA-merinoram

  • 23 August 2021
  • 715
  •  
  •  
  •  nuus



Mega Beast het nie net vir ʼn opskudding in plaaslike veilingskringe gesorg na die hammer op dié rekordprys geval het nie, maar ook in Lesotho, waar sy aankoms met groot fanfare aangekondig is. Hy is verlede week deur Koning Letsie III in die land ‘verwelkom’ ten aanskoue van die land se TV-kameras. Koning Letsie is self ʼn merinoboer met ʼn massiewe boerdery in die berge.

Meer oor Mega Beast en sy nuwe tuiste

Die twee jaar oue ram, van die Mega Merino-stoetery in die Colesberg-omgewing, is deur Mpho Sekonyela gekoop. Sekonyela is na wat berig word een van die grootste boere in Lesotho.

Mega Beast week 158 kg en spog met ʼn besonderse balans tussen sy wol en bouvorm. Hy is die spruit van die ram Incredible, wat in 2019 ook ʼn rekordprys behaal het toe hy vir R170 000 verkoop is.

Sekonyela het die ram se semen laat tap en dit sal na verwagting in Suid-Afrika verkoop word.

Veilingsprys oortref alle verwagtinge

Volgens Danie Vorster, bestuurder van Merino SA, het niemand verwag dat ʼn ram R300 000 sou haal nie. Die vorige hoogste prys was in 2017, toe ʼn merino vir R255 000 opgeveil is.

Die meeste ramme op vanjaar se veiling is deur boere van Lesotho gekoop. Hulle het tien ramme van meer as R100 000 elk gekoop en het gesamentlik R1, 042 miljoen op die veiling bestee. Op die keper beskou verteenwoordig dit ʼn derde van die veiling se omset.

Die veiling het nog ʼn Suid-Afrikaanse rekordprys opgelewer toe ʼn poenskopram, ook ʼn merino, vir R150 000 verkoop is.





Related Articles