Nuwe piesangkultivar bult spiere teen Panama-siekte

  • 28 June 2021
  • 568
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Panamasiekte hou ʼn groot bedreiging vir piesangprodusente in, nie net omdat dit tot groot verliese aanleiding gee nie, maar ook omdat ʼn besmette stuk grond nooit weer vir piesang-produksie aangewend kan word nie omdat die spore van FOC-TR4 vir langer as 20 jaar in die grond kan oorleef.

 Meer oor die Formosana-kultivar

Dié nuwe kultivar is deur die Taiwannese Piesangnavorsingsinstituut (TBRI) ontwikkel, en is ʼn soort Cavendish-piesang, maar met weerstand teen FOC-TR4.

Die TBRI het reeds sedert die 1980’s met hul mutasie-seleksieprogram op piesangs begin en Formosana is in 2004 vir die eerste keer internasionaal getoets. Dit word reeds op sowat 8 000 hektaar in die Filippyne verbou en ook in Australië getoets.

In Suid-Afrika het die Du Roi-laboratorium in Letsitele, Limpopo, die eksklusiewe regte bekom om die Formosana-kultivar by sy weefselkultuuraanleg te kommersialiseer. Volgens die regte mag Du Roi Formosana-plante na onder meer Afrika, die Midde-Ooste, die Karibiese eilande en Suid-en Sentraal Amerika versprei.

Volgens ʼn verklaring deur Du Roi-laboratorium toon kommersiële proewe in Mosambiek dat Formosana aansienlik meer weerstand bied teen FOC TR4 as ander bekende kultivars soos Grand Nain en Williams. Du Roi se veldproewe in Suid-Afrika, waar die kultivar onder subtropiese toestande bestudeer is, het ook volgens die verklaring goeie resultate opgelewer. Suné Wiltshire, hoofbestuurder van Du Roi-laboratorium, sê dat die variant minder ernstige simptome of skade as ander vatbare kultivars wat onder dieselfde omgewingstoestande en inikulumdruk groei. Sy beveel gevolglik aan dat die gebruik van ʼn kultivar soos Fromosana moet deel uitmaak van ʼn geïntegreerde benadering om die siekte te bestuur.

“Ons sien uit daarna om produsente wie se plantasies deur FOC TR4 verwoes is, te ondersteun om dit met Formosana te herplant. Die potensiaal is daar om goeie opbrengste te behaal, ten spyte van grond wat deurtrek is met FOC TR4,” sê Wiltshire en voeg by dat Du Roi-laboratorium jaarliks sowat 8 miljoen piesangplante aan 25 lande reg oor die wêreld besorg.

Het jy geweet?

  • Panama-siekte is ʼn swamsiekte wat die wortels van ʼn piesangplant beïnvloed.
  • Dit is vir die eerste keer in die vyftigerjare in Panama gedokumenteer en het van daar af versprei na verskeie Sentraal-Amerikaanse lande soos Costa Rica, Nicaragua, Honduras en Guatemala.
  • Die siekte kan nie met wind, insekte of voëls versprei word nie en is ʼn grondgedraagde siekte.
  • Die siekte het reeds die Grana Michel-piesang uitgewis.
  • Tot dusver is daar geen chemiese maniere bekend om hierdie swamsiekte te beheer nie.





Related Articles