Niks soets aan ingevoerde suikerprodukte

  • 21 December 2020
  • 1382
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Dié veldtog het dit ten doel om verbruikers bewus te maak van die omvang van plaaslike suikerprodukte en hulle gevolglik aan te moedig om die plaaslike bedryf te ondersteun. Die belangrikste kenmerk van plaaslike suikerprodukte is die Trots Suid-Afrikaans-kenteken wat op alle verpakkings aangedui word.

Oorsig van ʼn kwynende bedryf

Die Suid-Afrikaanse suikerbedryf het in 2017 ʼn groot terugslag beleef toe ongeveer 500 000 ton suiker belastingvry ingevoer is. Die bedryf se reeds kwynende markaandeel is in 2018 verder verswak toe Suid-Afrika ʼn gesondheidsheffing op suiker ingestel het, wat koeldrankvervaardigers gedwing het om minder suiker te gebruik. Gedurende die tyd het verkope van ongeveer 400 000 ton suiker verlore gegaan.

In die eerste seisoen na die instelling van die gesondheidsheffing, het die plaaslike suikerbedryf inkomste van R1,3 miljard verloor terwyl 10 000 werksgeleenthede in die suikerrietkwekersektor in gedrang gekom het.

Volgens Rex Talmage, voorsitter van SA Suikerrietkwekersvereniging, stel bogenoemde terugslae in perspektief as hy verduidelik dat vir elke ton ingevoerde suiker, die plaaslike bedryf ongeveer R4 000 verloor. “Hierdie goedkoop ingevoerde suiker is van ʼn laer gehalte en bring mee dat die plaaslike bedryf in die afgelope jaar reeds meer as R2,2 miljard verloor het,” sê Talmage.

Die vereniging verwag dat ʼn rekordhoeveelheid suiker tariefvry uit Eswatini sal instroom, en dié buurland sal ongeveer 715 000 ton suiker lewer. Meer as die helfte hiervan sal na alle waarskynlikheid op die Suid-Afrikaanse mark beland. Dit bring mee dat die plaaslike bedryf gedwing word om suiker teen rekordlae pryse uit te voer na ʼn reeds versadigde wêreldmark.

Indien dié tendens voortgaan, sê Talmage dat nie net die toekoms van die bedryf in geheel in gedrang is nie, maar ook dié van 21 000 kleinskaalse kwekers, 65 000 plaaswerkers, 270 000 indirekte werksgeleenthede en ʼn miljoen mense se bestaansmiddele.

Suikermeesterplan poog om plaaslike mark te versterk

Ingevolge die meesterplan wat deur die regering op die voorgrond geplaas word vir die suikerwaardeketting, word daar gepoog om die vraag na plaaslike suiker tot 150 000 ton suiker per jaar te herstel in die eerste twee jaar van toepassing. Dié vraag sal in die derde jaar tot 300 000 ton vermeerder. Om dit te vermag het klein- en groothandelaars hulle daartoe verbind om 80% van hul suiker plaaslik aan te skaf. Teen die derde jaar sal hulle 95% van hulle suiker plaaslik aankoop.






Related Articles