Nampo 2021, besluit gou verwag

  • 30 January 2021
  • 1507
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



In 2020 het die Covid-19-pandemie en die onsekerheid wat daarmee gepaard gaan, daartoe aanleiding gegee dat die fisiese aanbieding van die 54ste Nampo-oesdag by Nampopark, buite Bothaville in die Vrystaat, uitgestel is. In die plek van die tradisionele oesdag, is Nampo Virtueel van stapel gestuur en het meer as 36 000 besoekers en 93 uitstallers van dié virtuele-uitstallingsplatform gebruik gemaak.

Volgens Toit Wessels, assistent bestuurder van Nampo en bemarking by Graan SA, neem uitstallers tans aan ʼn opname deel om te bepaal of hulle die fisiese formaat van die oesdag in 2021 sal ondersteun. Die resultate van dié opname sal as ʼn belangrike rigtingwyser vir die Nampo-raad dien wat op 4 Februarie vergader om oor die oesdag te besluit. Ander items op die agenda sluit in die moontlike verandering van die datums vir die geleentheid, en die oorweging om die geleentheid op ʼn kleiner skaal aan te bied.

Wessels het in ʼn onderhoud met Farmer’s Weekly gesê dat die organiseerders dit waarskynlik oorweeg om die geleentheid op ʼn kleiner skaal aan te bied, soos byvoorbeeld teen ʼn 70% kapasiteit met minder mense wat die skou besoek, eerder as om weer ʼn aanlyn-geleentheid aan te bied. Hy sê dat dié besluit egter onderhewig is aan die Covid-19- regulasies met betrekking tot byeenkomste van groot groepe mense.

“Ongeag die besluit wat geneem gaan word oor die formaat, kan besoekers én uitstallers vanjaar weer uitsien na ʼn vol program,” sê Wessels. 





Related Articles