Moontlikheid bestaan vir nuwe amnestietydperk

  • 08 March 2021
  • 1787
  •  Senwes
  •  
  •  nuus



Die minister van polisie, Bheki Cele, het aangedui dat daar ʼn moontlikheid bestaan dat ʼn versoek vir nog ʼn vuurwapenamnestietydperk eersdaags by die parlement ingedien sal word.

Cele het dié uitlating gemaak tydens ʼn vraag-en-antwoordsessie in die nasionale vergadering waartydens parlementslede vrae aan ministers in die nasionale veiligheidsgroepering kon stel. Op ʼn vraag of die amnestietydperk verleng sal kan word, het die minister aangedui dat die evaluering van die uitkoms van die afgelope amnestietydperk nog nie afgehandel is nie, en dat ʼn toekomstige amnestietydperk oorweeg sal word sodra die evaluering voltooi is. Hy het ook te kenne gegee dat ʼn versoek om ʼn verlenging van die amnestietydperk billik is.

Volgens Cele is altesaam 45 950 vuurwapens in die 2019-2020 en 49 339 vuurwapens in die 2020-2021-amnestietydperk ingedien. Meer as 500 000 patrone is ook ingedien. Hy het ook aangedui dat die evaluering van die mees onlangse amnestietydperk, wat in Januarie 2021 tot ʼn einde geloop het, binne die bestek van ʼn week afgehandel kan wees, maar het te kenne gegee dat die proses nie sonder uitdagings verloop het nie en dat vuurwapeneienaars in sommige gevalle benadeel is. Onder die probleme tel dat talle polisiebeamptes nie by polisiekantore was as mense hul vuurwapens wou inhandig nie en dat amptelike dokumentasie nie geredelik beskikbaar was nie.

In antwoord hierop het Cele gesê dat die impak van die Covid-19-pandemie, veral tydens die twee amnestietydperke, nie buite rekening gelaat moet word nie en dat dit die proses erg ontwrig het. Hy is ook van mening dat meer vuurwapens ingesamel kon word. Tydens die tweede amnestietydperk het meer as 27 000 polisielede Covid-19 opgedoen en kon gevolglik nie diens doen nie. Altesaam 580 beamptes het voorts in dié tydperk gesterf.

ʼn Aankondiging in dié verband word eersdaags verwag. 





Related Articles